As jy al ooit by ‘n motorfietsbyeenkoms was, sal jy presies weet waarvan ek praat. En glo my geen ander motorfiets sal hiermee kan meeding nie. Jy sal verseker sy boute en moere op ’n ander plek gaan optel.
Michio Suzuki
Kom ons kyk 'n bietjie na die Suzuki Motor Company wat deur Michio Suzuki, die seun van 'n katoenboer gestig is. Michio het homself as timmerman gekwalifiseer, ’n jong man propvol ondernemingsgees. Soos met al die ander Japanese motorfietsmaatskappye het hierdie maatskappy in 'n heeltemal ander veld begin. In 1909 het Michio, toe net 22 jaar oud, 'n trapmodel weefraam ontwerp en so is die Suzuki Loom Works gestig.
Eerste gemotoriseerde fiets
In 1937 eksperimenteer hulle met verskeie klein motor prototipes, maar met die aanvang van die Tweede Wêreldoorlog verklaar die Japanese regering dit as "non essential commodities". Volgens oorvertelling was dit Michio Suzuki se seun wat met die idee om sy fiets te motoriseer vorendag gekom het en in 1951 begin Suzuki om aanklipmotors vir fietse te vervaardig.
Die maatskappy het sy eerste gemotoriseerde fiets die Power Free in 1951 geproduseer. In 1953 word die Diamond Free vervaardig en spog met 'n dubbel kettingrat en twee spoed versnelling. Hierdie model was baie gewild op die plaaslike mark. Hierdie sukses het hulle aangemoedig om 'n verdere, soortgelyke maar opgegradeerde model in 1954 vry te stel. Suzuki het nou 6 000 motorfietse per maand vervaardig en het bekend geword het as die Suzuki Motor Corporation.
In 1974 word die RE5 met ‘n rotasie enjin vervaardig. Alhoewel hy nie sleg daarna uitgesien het nie was dit ‘n kommersiële ramp. Na twee jaar word die projek gestaak en volgens gerugte is die gereedskap in die see gestort sodat die Suzuki-bestuur dit nooit weer hoef te sien nie.
Die G-reeks
Tot 1976 het Suzuki net tweeslagenjins geproduseer, waarna die vierslag GS400 en GS750 bekend gestel is. Laasgenoemde het besonder gewild onder wedrenentoesiaste geword, aangesien hierdie model 'n spoed van net meer as 200 km/h kon bereik. Die G-reeks het Suzuki goed in die wedrenwêreld gevestig.
Passasier op die Katana
En dan was daar in 1980 die Suzuki Katana, sal ek hierdie een ooit vergeet. So oor 'n naweek kuier ek en 'n vriendin in Kimberley, ons gaan Sondag terug Barkly-Wes toe want party van ons moes Maandag werk. Teen Sondagmiddag het ons nie meer 'n geleentheid terug nie. Dis toe dat ek 'n ou skoolvriend in Kimberley raakloop en vra toe noodgedwonge 'n geleentheid daardie kant toe. Bagasie moes maar eers bly. Sondagmiddag daag ek toe handsak en al agter op 'n Suzuki Katana by die huis op. Mensig maar my ma was kwaad. Dit was ook die eerste en enigste keer wat ek op ‘n Suzuki was.
Hayabusha die swerfvalk
Heelwat later in 1991 skakel die GSX750 van olieverkoeling oor na waterverkoeling en in 1995 maak die geliefde 16 klep Bandit 1200 sy verskyning. Sportmodelle het al hoe meer verbeter en Suzuki se Hayabusha word as die beste aërodinamiese sportfiets beskou. Dit is toegerus met ’n 1298cc vloeistofverkoelde DOHC - 4 silinder gelidenjin en word baie gewild. In Japannees beteken Hayabusha ‘swerfvalk’.
As ek nou ’n Honda-man hier moet insleep sal hy jou gou vertel daar is geen vergelyking te tref tussen die Hayabusha en die Honda Blackbird nie. Wat sal ek nou sê behalwe, onthou - ek is ’n Honda-aanhanger!
Spiertier
En so swerf ons na die nuutste modelle soos die Boulevard M109R en V-Strom 1000 om maar net twee te noem.
Boulevard M109R is 'n spiertier wat die adrenalien laat pomp. Volgens spesifikasies het hierdie monster die grootste enjin suiers van enige produksie motor of motorfiets. Elkeen is 112 mm gesmede aluminium suiers, gebruik kort suiermantels en het weggesnyde kante om wrywing te verminder en die ryer met brutale krag te voorsien.
Die nuwe vloeistofverkoelde enjin van 1783cc het vier kleppe per silinder en SDTV digitale brandstofinspuiting (SDTV – Suzuki Duel Trottle Valve). Van die oomblik wat jy hierdie monster loslaat sal jy volkome vryheid ervaar. Ek moet sê die monster laat my nogal ’n bietjie aan die V-Max dink.
V-Strom 1000
Meer as ’n dekade gelede het Suzuki die baie gewilde V-Strom 650 ontwikkel. Die nuwe V-Strom 1000 se enjin is herontwerp en die liggewig aluminium raam, dik opgestopte sitplek en verstelbare windskerm maak die V-Strom maklik om te ry of dit nou gebruik word vir ’n plesierrit of om die agterpaadjies van die platteland te ontdek.
Daar is verskeie ander modelle beskikbaar en die keuse berus steeds by jou. Gaan dit Suzuki wees of gaan jy die slimmer keuse maak en 'n Honda kies. Jammer manne, dis net 'n grappie.
Kom ons los die Honda vir volgende maand dan kan jy self besluit.

1976 Suzuki GS750

2012 Suzuki Boulevard M109R
ARTIKEL: EMSIE MARTIN
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete | Klein-Karoo nuus'