MOTOR-NUUS - Suzuki Suid-Afrika is een van die handelsname wat die vinnigste in Suid-Afrika groei. Nou het die maatskappy internasionale erkenning ontvang vir groei in verkope en uitmuntende kliëntediens.
Die plaaslike filiaal van dié Japanse voertuigvervaardiger het altesame sewe toekennings by Suzuki se streektoekennings vir die Midde-Ooste en Afrika in Nieu-Delhi, Indië ontvang. By die onlangse toekennings het Suzuki SA het onder meer die Kampioen van Kampioene-toekenning ontvang vir sy uitsonderlike groei in verkope en kliëntediens.
"Ons is besonder trots op ons handelaarsnetwerk, wat gesorg het dat ons snelle groei in voertuigverkope nie plaasgevind het ten koste van kliëntediens nie. Inteendeel, ons hand vol internasionale toekennings het gewys dat ons diensvlakke aansienlik verbeter het terwyl ons duisende nuwe kopers by die Suzuki-handelsnaam verwelkom het," sê André Venter, afdelingshoof vir verkope en bemarking by Suzuki Auto Suid-Afrika.
In Nieu-Delhi het Suzuki toekennings ontvang vir die beste verkope in die streek, die meeste verkope op die Afrika-kontinent, die grootste groei in verkope in Afrika, die beste opleiding van sy personeel, die hoogste verkope van onderdele en bykomstighede in Afrika, die hoogste verkope van bykomstighede per voertuig in die streek, asook die mees verbeterde verkope- en naverkopediens in die streek.
Voor Suzuki SA na die verhoog geroep is vir die Kampioen van Kampioene-toekenning, het hy ook die tweede plek in die streek ontvang in die kategorie vir handelaar-bestuur en ondersteuning en die eerste plek vir die behoud van kliënte.
"Om as die Kampioen van Kampioene bekroon te word te midde van strawwe mededinging van ander invoerders in Afrika en die Midde-Ooste, is 'n groot eer.
Dit beteken dat Suzuki Suid-Afrika uitnemend presteer het in alle afdelings en dat ons kopers die meeste baat by ons prestasie gevind het," sê Venter.
Suzuki se verkoopsyfer het met rasse skrede gegroei sedert hy die eerste keer in Augustus 2017 deur die 1 000-kerf gebreek het. Sedertdien het die vervaardiger sy eie verkoperekord vyf keer geklop en is hy verwelkom in die top 10-groep Suid-Afrikaanse handelsname met gereelde verkope bó 1 000 eenhede.
In 2016 en 2017 is Suzuki Suid-Afrika ook bekroon as die Handelsnaam van die Jaar in die Cars.co.za-toekennings. In die 2017-boekjaar het Suzuki ook die eerste keer deur die 10 000-kerf gebreek.
In September het Suzuki weer deur die 1 000-kerf gebreek, toe hy die sleutels van 1 140 eenhede aan nuwe kopers oorhandig het. Dit is 'n styging van 22% bo Suzuki se eie verkope in September 2017. In teenstelling met sy uitsonderlike prestasie het die algehele voertuigmark in dieselfde tydperk met 1,9% gekrimp.
Suzuki se topverkopers sluit in die nuwe Suzuki Swift (413 eenhede in September), die Celerio (208 eenhede), die Ignis (154 eenhede) en die Ciax (114 eenhede).
Die nuwe Jimny word in November vanjaar verwag. Hoewel die prys nog nie bevestig is nie, sal dit na verwagting die mark betree met 'n intreeprys van sowat R265 000.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'