MOTORNUUS - 'n Entrepreneur is iemand wat 'n sakegeleentheid raaksien, dit benut en tot sy eie voordeel uitbrei.
Hierdie omskrywing pas Christie Stuurman van Sakkiesbaai, Ladismith soos 'n handskoen. Christie het vir 18 jaar by 'n plaaslike bandediens gewerk en het waardevolle ondervinding opgedoen. Naweke is hy oorval met versoeke vir die noodherstel van bande.
Hy het hulle dan op die primitiewe metode van ysterlepel en rubberhamer gehelp. Die vraag na sy dienste het toegeneem en Christie het die moontlikheid van sy eie besigheid begin ondersoek en met sy wederhelfte bespreek.
Hy het besluit om homself as 'n entrepreneur te vestig en bedank.
Hy vertel dat 'n Samaritaan aan hom 'n vraghouer verskaf het waarvandaan hy sy besigheid kon bedryf.
Met die R70 000 pensioen wat hy na sy bedanking ontvang het, het hy die vraghouer ingerig om sy toerusting en voorraad asook 'n kantoor te huisves.
Vandag hoef hy nie meer met primitiewe gereedskap te werk nie, want stelselmatig het hy sy inkomste gebruik om moderne toerusting soos 'n balanseermasjien, kompressor en 'n masjien om bande van die vellings af te haal, aangeskaf.
Stuurman noem dat hy bewus was van die risiko, maar dat hy sy huiswerk deeglik gedoen het en oortuig was dat daar 'n mark vir sy dienste is, voordat hy verlede jaar die besigheid uit die vraghouer begin bedryf het.
Terwyl hy elke dag aan sy besigheid wy, hou hy nie op met droom en beplan nie.
Een van sy langtermynplanne sluit 'n tak in die nabygeleë Zoar in. Volgens Stuurman moet mense nie bang wees om entrepreneurs te word nie. Die geheim is goeie beplanning, deursettingsvermoë en toewyding.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'