GEORGE MOTOR NUUS - Hierdie Saterdag op 28 April, gaan alle motorsportpaaie weer na George se skouterrein lei. Die George-motorklub bied hul jaarlikse "Champions of Champions" byeenkoms vir die sewentiende keer aan.
Daar sal in agt klasse meegeding word. Dit is die Ontwikkelingsklas, 1660, Pink Rods, 2,1, Hitsmotors, Midget, Heavy Metal en Gemodifiseerde V8-klas. Altesame 78 motors het reeds teen die publikasiedatum ingeskryf.
Groot name soos Marius Vos, André Nel, André Fouché en Tygerberg se Du Pessis pa en seun-span is van die name in die 1660-klas. Dié klas het reeds 22 inskrywings.
Vir die 2,1-klas het Burger van der Westhuizen, Tersius van Tonder en JP Kotze reeds ingeskryf. Die Hotrod-klas spog ook met groot sterre wat reeds ingeskryf het, waaronder Quentin Ellard, Nicky Koegelenberg, Dylan Nel (SA1), Bryan Grimbeeck (SA2), Llewelyn Kotze, Han-Kock Brand en Tiaan Louw, wat die room van die klas se jaers insluit.
Die Gemodifiseerde V8-klas het ook reeds talle bekende deelnemers gelok. Bennie Greyling is terug na groot skade aan sy motor in Worcester en dan is daar ander hardebaard-jaers soos Anton Pretorius, Pieta Victor, Johan Kuyler, Morné Groenewald en Altru de Klerk.
Die byeenkoms dien as kwalifiseringwedrenne vir die SA Kampioenskappe se finale rondes later vanjaar.
Die hekke open om 09:00 en wedrenne begin om 17:00. Die George-motorklub se Knortjor-afdeling begin reeds om 13:00 met hul wedrenne.
Toegang vir die byeenkoms is R80 vir volwassenes en R30 vir kinders. 'n Lekker verskeidenheid eet- en drinkgoed sal om die baan te koop aangebied word.
Vir meer inligting, skakel 082 695 4833.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'