Gallery
MOTORNUUS - Hierdie naweek, Saterdag, 6 Julie, is dit weer tyd vir die jaarlikse Richard Griessen Repairs Klein-Karoo Kampioenskap in Oudtshoorn - die grootste ovaalbaanwedrenbyeenkoms in die Tuinroete-distrik en een van die grootstes in die land.
Die kampioenskap word vanjaar vir die 28ste keer aangebied. Richard Griessen is al vir 21 jaar die hoofborg van dié gewilde byeenkoms en Dirk van der Westhuizen, die voorsitter van Oudthoorn Motorklub, speel vir die 23ste keer gasheer.
Meer as 120 van die land en Namibië se sterkste en vinnigste motors het vanjaar in 13 klasse ingeskryf en Van der Westhuizen sien uit daarna om 'n rekordgetal inskrywings te ontvang. "Ons lok dikwels meer renjaers as die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe. Daar is baie sentiment aan ons byeenkoms en vanjaar is daar weer 'n jaer van Walvisbaai met haar ondersteuners wat kom. Die jaers wil almal met 'n weneier huis toe gaan."
Gesogte volstruiseiers
Die top drie renjaers in die verskillende klasse wen elk 'n volstruiseier wat met die vorige jaer se wenmotor gedecoupage is. So, die jaers wil wen sodat hulle die weneier kan kry, maar ook sodat volgende jaar se wenner 'n eier ontvang met hulle motor daarop!
Die ondersteuners is net so geesdriftig oor dié wedren en verlede jaar het 'n toeskouer reeds van die Dinsdagmiddag by die ingang gekamp terwyl die hekke eers Saterdagoggend 06:00 oopmaak. Die man wou seker maak hy kry sy gunsteling plek langs die baan. Daar is plek vir maksimum 2 500 toeskouers. Van der Westhuizen vertel dat sommige mense in die week voor die byeenkoms Oudtshoorn toe ry met twee voertuie en een by die baan in die ry voor die hek los. Saterdagoggend is hulle terug en klim dan net in die geparkeerde kar - lekker voor in die ry.
Die kampioenskap doen ook sy deel vir die gemeenskap en 'n plaaslike kerk beman die ingang in ruil vir 'n deel van die hekgeld.
13 Klasse
- Gemodifiseerde V8
- Muggiemotors-klas A
- Muggiemotors-klas B
- 1660-klas
- 2.1-klas
- Hitsmotor-klas (Hot rod)
- Heavy Metal-klas
- SWD-ontwikkelings-klas
- Jr Stockrod-klas (seuns en dogters onder 18)
- Stockrod-klas
- Pink Rods - dames
- Pink Divas - dames
- Pink Stocks - dames
Program
• Op Vrydag 5 Julie word die renmotors van 14:00 tot 18:00 by Laerskool Laurus in Oudtshoorn ondersoek en die kenmekaar 'Brag Party' begin om 18:00 by Laerskool Laurus. Daar word lekker gekuier en geëet en renvideos word ook vertoon.
• Op Saterdag 6 Julie open die hekke om 06:00 en die motors word van 08:00 tot 11:00 ondersoek. Die wedrenne begin stiptelik om 12:00.
Toegang is R100 vir volwassenes en R30 vir kinders.
Kontak Dirk vd Westhuizen op 072 854 8830 vir enige navrae. Besoek ook die Facebookblad, SWD Oval News.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'