MOSSELBAAI MOTOR-NUUS - 'n Voertuig was nooit vir my juis 'n item van belang nie. Ek het dit bloot beskou as 'n vervoermiddel tussen die onderskeie plekke waar ek moes wees.
Daarom het ek vir my die goedkoopste en kleinste karretjie gekoop. 'n Bedrag wat my sak pas en 'n ryding wat lig op brandstof is.
Dit was alles goed en wel, maar ek was oorhaastig met die aankoop. Ek het die enigste, kleinste karretjie, lig op brandstof ook, by die motorhandelaar gekies. 'n Groen een. Of was dit nou 'n groen-geel een?
Ons het gereeld oor die kleur van my wiele gedebatteer. Ek was heel tevrede met my nuwe aankoop. My kinders egter nie. Hulle het elke keer wanneer ons in die "groen gevaarte" klim, wat minstens vyf keer per dag is, oor die beknopte spasie gekla.
En my oudste, oor die kleur. "Ons is die enigste mense wat met 'n groen kar by die skool aankom," het sy elke oggend gesê wanneer ons by die skool inry.
Ek kon dit vir 'n jaar en 'n half verduur, maar later het hulle kritiek oor die kleur en die beknoptheid my te veel gepla. Slegs een mediumgrootte tas kon in die kattebak pas. Ons ry baie en ek werk ook dikwels in my motor terwyl die kinders met sport by die skool besig is.
Ek het toe besluit om 'n voertuig te soek wat meer ruimte vir ons sal bied. 'n Meer aanvaarbare kleur was ook 'n groot motivering.
Alhoewel die Hyundai i20 se prys effe bokant my begroting was, kon ek dit net nie weerstaan nie. Ek het dadelik daarvan gehou. Die vorm van die kopligte en veral van die kleur - stardust.
Die motor is ook lig op brandstof en ry soos 'n droom. Ons voel ook veiliger omdat dit voel of die Hyundai stewiger aanmekaargesit is. Dit het boonop twee lugsakke voor in die bestuurskajuit.
Ek is gaande oor die moderne tegnologie beskikbaar. Die bluetooth-tegnologie en vier luidsprekers maak dit gerieflik om werksoproepe te maak en te ontvang terwyl ek bestuur.
Ek het 'n demonstrasiemodel gekoop wat nog slegs 18 000 km afgelê het. Ek het besluit om hierdie motor ten minste vyf jaar te hou.
My dogters is net so tevrede soos ek. Hoewel ek nie materialisties is nie, ry ons baie en is elke oomblik in die Hyundai i20 is 'n plesier.
My eerste ver rit met my nuwe motor was Port Elizabeth toe. Dit was 'n heerlike, gerieflik rit en ek moes mooi kyk om nie die spoedgrens te oorskry nie. Voor jy jou weer kon kry, lees die snelheidsmeter reeds op 120 km per uur, sonder sukkel.
Ons geniet ons nuwe motor. Elke oggend wanneer ons inklim sê een van ons hoe lekker ons nou ry. Ek is steeds van mening dat 'n mens 'n voertuig moet koop wat aanpas by jou omstandighede, asook jou begroting, maar na dese is ek bereid om 'n klein bietjie meer te betaal vir die plesier wat 'n nommerpas-ryding bied.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'