MOTORING NUUS - Altesaam vier Morris Minor-voertuie neem vanjaar aan die sesde Liquorland Erfenistoer deel wat van 23 tot 27 September deur Oos-Kaapland reis.
Pierre Olivier van Blanco, voorsitter van die reëlingskomitee vir die Erfenistoer, neem vanjaar vir die sesde keer deel en ry weer met 'n 1962 Morris Minor 100.
Die toer word beskou as een van die hoogtepunte op die Suid-Kaap Oumotorklub se kalender. Olivier is trots op dié voertuig wat hy ses jaar gelede in 'n pakstoor op Robertson opgespoor het. Die voertuig het 21 jaar lank in die pakstoor gestaan. Dit was volledig, maar ernstige restourasiewerk was nodig.
Hy het die voertuig met groot sorg tot sy eertydse glorie gerestoureer.
"Sedert die eerste Morris Minor 1000 in die middel-vyftigerjare tot vroeë sewentigerjare deur die British Motor Company (BMC) vervaardig is, is dit die gewildste gesinsmotor wat ooit in die Verenigde Koninkryk verkoop is," vertel Olivier.
Na raming is daar meer as 1,5 miljoen van die voertuie verkoop en dit is steeds 'n baie gesogte motor vir liefhebbers in voormalige kolonies soos Amerika, Australië, Kanada, en Suid-Afrika.
Volgens Olivier was dié voorloper van die immergroen Mini, sy tyd ver vooruit.
"Dit was gebou met 'n rat- en tandrat-stuurmeganisme (rack and pinion), 'n beginsel wat vandag nog gebruik word. Dit was ook een van die eerste motors wat voorsien was van 'n wringstaaf-voorsuspensie (torsion bar front suspension) en nie vere nie."
Olivier se tweedeur het deuropeninge wat bietjie groter as dié van die vierdeurmodel is. Dit is dus nie te moeilik vir 'n groot man om in en uit te klim nie. Sy vrou, Tilly, onderneem vanjaar die Erfenistoer saam met hom.
Die ander Morris Minor 1000-modelle wat sal deelneem, behoort aan George Marx en Mariëtte Terblanche van Tergniet wat ook vir die sesde jaar in hul 1957-model deelneem. Dan is daar Jan and Anita Wright van Danabaai in hul 1958-model en Sydney en Daphne Young van Tulbagh wat in hul 1961-model deelneem.
Pierre Olivier in sy Morris Minor 1000 op die langpad. Foto's: Tisha Steyn
Die Erfenistoer vertrek op 23 September vanaf die Precap-sentrum in Courtenaystraat, George, na Jeffreysbaai, waar hulle die eerste aand oornag. Die tweede aand oornag hulle op Addo en daarna op Graaff-Reinet en Willowmore. Hulle pak die laaste rit na George op 27 September aan.
Inwoners van dorpe langs die roete van net meer as 1 000 km is welkom om met die deelnemers te gesels en uit te vra oor hul voertuie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'