As passasier spring jy vir seker die konsentrasie van die ryer vry en is daar die geleentheid om te dink, wyd te dink. Jy sien dinge langs die pad wat jy nie in 'n motor raaksien nie.
Die stilte wanneer jy stop, is kos vir die siel. So deur die Karoo was een van my dinkdinge, bonsai-boompies. Mense spandeer ure aan die kweek van 'n bonsai-boompie en al wat jy eintlik kan doen, is die Karoo invaar en kyk. Die natuur se mooiste bonsais staan langs die pad. Ek moet sê, ek het hulle nog nie so raakgesien wanneer ons met die motor dieselfde pad ry nie.
Maar 560 km agterop 'n motorfiets raak lank, lank genoeg om later nie meer jou sit te ken nie.
Hier is 'n paar wenke vir die passasier:
- Sit gemaklik sonder om rond te skuif, dit kan die konsentrasie van die ryer verbreek. Wanneer lang ritte aangepak word vra die ryer om gereeld te stop om bene te rek. Sommige modelle het 'n erg ongemaklike saal vir die passasier.
- Die passasier moet ook verantwoordelikheid neem. Moenie die motorfietsryer se aandag aftrek nie. Werk 'n manier uit om 'n boodskap oor te dra wat albei verstaan.
- Hou jou voete op die voetstuk vir die passasier, uit die pad van die ryer. Die ryer se gemak is van meer belang as jou eie.
- Moenie op die motorfiets klim met jou totale gewig op die voetstuk nie. Die ryer kan beheer verloor indien hy nie gereed is dat jy kan opklim nie.
- Hou altyd een voet op die grond wanneer jy op of af klim
- As jy agterkom die drywer is moeg, vra dat hy stop.
- Wees altyd waaksaam, al sit jy agter.
Stop gereeld, daar is altyd die ideale plek om te stop en langs die pad te vertoef vir daardie stilte wat regtig kos vir die siel is.
.jpg)
Tussen Barrydale en Ladismith waar jy net die stilte hoor. Foto: Emsie Martin
ARTIKEL: EMSIE MARTIN