Die nuwe Honda Ballade volg in die spore van ’n motorlegende wat nie net die Honda-maak as ’n vervaardiger van passasiermotors in Suid-Afrika gevestig het nie, maar ook nuwe standaarde vir kompakte motors gestel het in gehalte, diens en gerief.
Die oorspronklike Honda Ballade het in 1992 sy buiging in die land gemaak. Die motor is in oorleg met die destydse Mercedes-Benz SA plaaslik gemonteer en bemark.
Dié samewerking het Honda in staat gestel om ’n teenwoordigheid in Suid-Afrika te vestig en ook ’n naam vir gehalte te bou.
Vir MBSA was die Ballade ’n kompakte motor wat sy kieskeurige klante kon bevredig.
Die Ballade is deur MBSA se handelaarnetwerk bemark en was dadelik ’n gewilde keuse by Mercedes-Benz-eienaars met ’n behoefte vir ’n tweede, kleiner en meer bekostigbare motor vir die gesin.
Die motor het hom vinnig as ’n belangrike speler in die snelgroeiende kleinmotorsektor gevestig. Kenmerke soos lugreëling en ’n opsionele outomatiese ratkas was ongehoord in dié segment, en het die Ballade verder onderskei.
Verkope is gedryf deur ’n motorpubliek wat toenemend bewus geraak het van die uitsonderlike kombinasie van gehalte, weelde en gerief.
Die ooreenkoms het 19 jaar ge-duur, waartydens daar ses geslagte en 45 weergawes van die Ballade bemark is. In dié tyd is 171 166 eenhede verkoop.
Die Ballade is oorspronklik met ’n viersilinderenjin van 1.3 l toegerus, maar die enjinaanbod is geleidelik uitgebrei en het ook VTEC-kragbronne van 1.6 en 1.8 l ingesluit.
Die kernaanbod was egter enjins van 1.5 en 1.6 liter wat ’n uitstekende kombinasie van verrig-ting, ekonomie en duursaamheid gebied het.
As die wêreld se grootse vervaardiger van enjins, kon Honda die Ballade met gevorderde kragbronne toerus, terwyl MBSA se hoë monteerstandaarde vir uitsonderlike gehalte gesorg het - destyds uniek in die kleinmotorsektor.
"Die oorspronklike Honda Ballade was ’n baanbreker in die kleinmotormark. Die motor het baie van die kerneienskappe gevestig wat Suid-Afrikaners vandag nog met die naam Honda vereenselwig, soos gehalte, betroubaarheid en hoë vlakke van tevredenheid," sê Graham Eagle, Honda SA se direkteur van verkope en bemarking.
"Juis daarom is ons verheug om die ikoniese motor weer plaaslik beskikbaar te stel. Na ’n afwesigheid van 10 jaar in Suid-Afrika, beteken die terugkeer van die Honda Ballade dat ons nog ’n gehalte-sedanmotor aan Honda-klante kan bied.
"Die Ballade sal die gaping tussen die Honda Jazz en die Honda Civic oorbrug. Ons glo dat die nuweling net soos die oorspronklike, ’n groot indruk op die segment vir klein motors sal maak."
Volgens Eagle sal die nuwe Ballade sy buiging in die eerste kwartaal van 2011 maak. Honda George verwag dat die Ballade vanaf Februarie hier rond te sien sal wees en die staatmaker-motor se verskyning word beslis met opgewondenheid afgewag.
.jpg)
Dit lyk of die Honda Ballade sy aanvanklike status as "tweede motor" nou ontgroei het. Die nuwe model sal na verwagting sy buiging in die eerste kwartaal van 2011 maak.