MOTORNUUS - Die Suid-Afrikaanse tydrenkampioenskap het voor verlede naweek in die Caledon-area afgeskop met die Overberg Grand Prix.
Die SA reeks word in verskillende klasse beslis:
- N2 klas: SA se topklas, 1600 cc-enjins met 2-wiel aandrywing
- Classic klas - vir motors ouer as 1985
- Open 4WD-klas - vir Subaru's en Mitsubishi Lancers en ook die ou S2000-Klas motors wat 4-wiel aangedrewe was
- Open 2WD-klas - vir motors met enjins groter as 1600 cc maar met 2-wiel aandrywing
- Dan, omdat dit 'n 2-dag tydren is, word die streekkampioenskap van die area waar die tydren plaasvind die Saterdag ook gehou - hulle eie kampioenskap vir die jaar.
Die Classic-klas is verlede jaar gewen deur George se eie tydrenjaer, Etienne Malherbe, in sy bekende rooi 1974 Datsun 160 U SSS Coupe. Ons SA kampioen gaan weer dié jaar sy titel verdedig, maar met 'n twist in the tail.
Malherbe het net in die eerste tydren van die jaar in sy getroue Datsun deelgeneem. Die res van die seisoen gaan hy dr. Raj Jutley van Kenia se Datsun 160 U SSS Coupe gebruik.
Etienne Malherbe en dr. Raj Jutley van Kenia gooi die Datsun dwars op pad na 'n spogoorwinning in die Overberg Grand Prix-tydren.
Malherbe het vertel dat die Overberg Grand Prix sy naam gestand doen omdat daar teen lang ente in hoogste rat teen meer as 170 km/h op rowwe en ongelyke grondpaaie gejaag word.
Om dit met 'n 45 jaar oue Datsun met baie tydren kilometers agter die blad aan te pak, maak selfs die braafste onder ons uiteindelik bang.
Jutley het al die pad uit Kenia gekom om vir Malherbe die notas en instruksies te lees. Hulle was intens opgewonde oor die tydren, waarvan ses sneldele die Vrydag (drie in die nag) rondom Caledon plaasgevind het.
Tydens die eerste sneldeel het die Datsun met 'n steeks wisselstroommasjien (alternator) gesukkel, maar dit kon darem gedurende die eerste dienspunt herstel word. Na dag een was hulle gerieflik voor in die Classic-klas en het hulle geklop-klop aan 'n toptien posisie op die algehele voorlopers lys - en dit in 'n goue oue van 1974.
Saterdagoggend het die tydren weer afgeskop in die Klipdale Co-op area. Daar was agt grond sneldele wat voorgelê het vir die dag. Malherbe en Jutley het met elke sneldeel hulle houvas op die Classic-klas verstewig en het uiteindelik die klas op 'n drafstap gewen. Die Datsun was ook 10de algeheel en het `n hele paar nuwer en kragtiger motors uitgestof. Malherbe sê hulle het 'n probleemvrye tydren gehad. "Dit was 'n genotvole ervaring in my ou Datsun.
Sy doelwit is om weer vanjaar die Classic-klas te wen, en sy planne is goed op dreef ná die skitterwen in die Overberg Grand Prix. Hou die spasie dop vir Malherbe se vordering deur die jaar. AutoDealer sal lesers op hoogte hou en ook meer verduidelik oor hoe 'n tydren werk.
Trots word die SA kampioen in die Klassieke-klas se wenmotor, 'n 1974 Datsun 160U SSS Coupe, vanjaar op die George-oumotorskou uitgestal. Foto's: Francois Germishuys
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'