MOTOR NUUS - Reëlings vir die sesde Liquorland Erfenistoer, wat van 23 tot 27 September plaasvind, vorder fluks.
Die Erfenistoer word deur die Suid-Kaapse Oumotorklub gereël en deur Liquorland ondersteun. Dit begin en eindig in George en volg ‘n sirkelroete van sowat 1 000 km deur die Oos-Kaap.
Die deelnemers aan hierdie nostalgiese toer wat oor vyf dae strek, reis in voertuie van ‘n vervloë era en sal oorbly in Jeffreysbaai, die dorpie Addo, Graaff-Reinet en Willowmore voordat hulle na George terugkeer
Slegs voertuie wat voor 1975 vervaardig is, mag aan die Erfenistoer deelneem, tensy die reëlingskomitee ‘n ander voertuig goedkeur. Almal wat deelneem, is lede van die Suid-Kaapse Oumotorklub.
Twee voertuie wat vanjaar ingeskryf het, dateer van voor die dertigerjare. Phillip en Amanda Rosser van George se 1926 Ford Model T is in 1926 vervaardig en die oudste voertuig wat deelneem. Chris en Bentjie Langeveld van Mosselbaai se Chev Phaeton dateer uit 1929 en is die tweede oudste voertuig.
Voertuie uit die vyftigerjare is Rohann en Marlise Steenekamp van George se 1952 Chev 3100 LDV (ligte afleweringsvoertuig), George Marx en Mariëtte Terblanche van Tergniet, Mosselbaai, se 1957 Morris Minor 1000, Jan en Anita Wright van Dababaai, Mosselbaai, se 1958 Morris Minor 1000, die Pienaars van Beaufort-Wes se 1957 Mercedes-Benz 180 D-bakkie, en André Fourie van George se 1958 Mercedes-Benz 300 Cabriolet.
Voertuie uit die sestigerjare sluit in: Pierre Conradie en Maritz Stander van George in Pierre se 1960 Studebaker Champ-bakkie, Sydney en Daphne Young van Tulbagh se 1961 Morris Minor 1000, Pierre en Tilly Olivier van Blanco se 1962 Morris Minor 1000, Kobus Halliday van Hartenbos en vriend Gawie Breytenbach van Heidelberg in Kobus se 1964 Studebaker Lark, Pieter en Bets Boonzaaier van Hartenbosheuwels in hul 1965 Ford Fairlane, Deon en Sonja Erasmus van Groot-Brakrivier in hul 1967 Jaguar E-Tipe, Johan en Alet Lingenvelder van Blanco in hul 1967 Wolseley 16/60 en Chris en Nelie van Staden van Groot-Brakrivier in hul 1968 Porche 912 Targa.
Voertuie uit die sewentigerjare sluit in Jan du Randt en Jani Klomp van Stormsrivier in Jan se 1970 Renault Alconi, Daniël en Elizabeth Moolman van Fraaiuitsig in hul 1971 BMW 2800 CS, Gerhard en Fienie Hoepfner van George in hul 1971 Mercedes-Benz 280 SE, Gerrit en Alda Lambrechts van George in hul 1974 Mercedes-Benz SL 500, en Danie en Karin Schmidt van George in hul 1975 Toyota Landcruiser. CG Smit en Tinus Langenhoven, onderskeidelik van Durbanville en Tygervallei, ry in ‘n 1988 Toyota Landcruiser, wat as besemwa sal diens doen.
Die aantal persone wat kan deelneem word beperk omdat van die dorpe nie genoeg oornagplekke het nie, maar daar is nog enkele plekke beskikbaar. Diegene wat gou spring, kan nog aan vanjaar se Liquorland Erfenistoer deur die Oos-Kaap deelneem.
Kontak Pierre Olivier by 082 872 6456 vir meer inligting, of besoek die Suid-Kaapse Oumotorklub se webblad by www.scocc.co.za
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'