MOTOR NUUS - Soveel van modder het ek lanklaas op `n ovaalbaan gesien.
Verlede Saterdag is die laaste wedren vir 2017 op Oudtshoorn aangebied.
Dié Oosies Racing-byeenkoms het behoorlik gemaai onder die karre.
Die baan was erg natgegooi om te keer dat hy droog raak in die hitte en het begin opbreek.
Die modder het daarna sy tol onder die deelnemers geëis.
In al die klasse was dit 'n moddergedoente. Karre het links en regs van die baan gegly, party is erg beskadig teen die betonmuur.
In die Ontwikkelingsklas het Vicky Meyer met 'n ander deelnemer kontak gemaak en haar motor het op die sy beland.
Meyer is nie beseer nie, maar dieselfde kan nie van haar VW Golfie gesê word nie.
In die 1660-klas het net twee deelnemers deurgegaan na die finaal.
Die klas is deur André Nel met sy Ford Fiesta gewen. André Fouché het gesukkel met 'n VW Polo wat erg gekets het, hy was tweede.
Anton Pretorius het die Gemodifiseerde V8-klas met sy Chev gewen.
Die 2,1-Klas is deur Christopher Burisch met sy pragtige Opel Corsa gewen. Die Hitsmotorklas is skitterend deur Clive Meyer met sy vinnige VW Golf turbo gewen.
Die Heavy Metal-klas is gewen deur André Keller met sy pragtige BMW.
Die Gemodifiseerde klas het ook sy kwota opwinding opgelewer toe Bennie Greyling in die derde uitdun teen die muur gebots het en sy motor onherstelbaar beskadig het.
Die skade was nie soseer kosmeties nie, maar onder die bakwerk.
Die mortor sal seker nie weer `n renbaan sien nie. Greyling is lig beseer, maar was Maandag reeds by die werk en hy belowe alweer 'n motor vir die maand se wedren in George.
Vicky Meyer se VW Golf lê op die sy. Sy het kontak gemaak met 'n ander deelnemer en toe die Golfie op sy neergegooi. Meyer was ongedeerd.
Twee ondersteunende klasse is ook afgehandel.
Die een klas was die sogenaamde 'Cross karts', dis pypkarre met motorfietsenjins. Hier het Anthony Oudtshoorn alles oorheers.
Die ander klas was 'Sprint cars'. Dit is ook pypkarre, maar met groot V8-enjins.
Die twee inskrywings van Stilbaai het net aan die vertoonwedrenne deelgeneem.
Die motors is deur Kenny Gouws en Daleen McCrudden bestuur.
Dankie aan Craig Anderson van Landy World George wat sy Ford Ranger-bakkie beskikbaar gestel het as mediavoertuig.
Die volgende en laaste byeenkoms in die SWD-reeks vind plaas op 15 en 16 Desember in George. Meer inligting volgende week.
Waldo Oosthuizen het 'n skitterende tweede plek losgejaag in die Hitsmotor-klas met sy Oosies Racing Opel Corsa. Oosies was die borg van die dag.
Uitslae :
Ontwikkelingsklas:
1. Johan Engelbrecht - VW Golf, 2. Werner Heunis - VW Golf, 3. Justin Brink - VW Golf
1660-Klas
1. André Nel - Ford Fiesta, 5. André Fouché - VW Polo
2,1-Klas
1. Christopher Burisch - Opel Corsa, 2. Burger van der Westhuizen - Opel Corsa, 3. Willie Olivier - Ford Fiesta
Hitsmotorklas
1. Clive Meyer - VW Golf Turbo, 2. Waldo Oosthuizen - Opel Corsa, 3. Rietha Oosthuizen - VW Polo
Heavy metal-klas
1. André Keller - BMW, 2. Anton Pretorius - Ford Sierra, 3. Leno Muller - BMW
Gemodifiseerde V8-klas
1. Anton Pretorius - Chev, 2. Corné Martin - Chev, 3. Lucius Fourié - BMW
Sprint cars
1. Kenny Gouws, 2. Daleen McCrudden
Cross Karts
1. Anthony Oudtshoorn, 2. Leon Hansen, 3. Jacques Mostert
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'