MOTORNUUS - Gawie Breytenbach van Heidelberg se 1938 Chevrolet 3100 Coupe is net so oud soos hy. En op 81 loop altwee nog baie mooi.
"Ek was saam met Mannetjies Roux by Boishaai op skool. Maar ek het nie rugby gespeel nie. Hy was in die koshuis en kon smiddae oefen. Ek sou 25 km moes stap as ek die skoolbus plaas toe verpas het!" Maar elke donker wolk het 'n silwer randjie. "Mannetjies loop vandag met 'n kierie en ek met net my eie twee bene."
En dit blyk sy goue oue Coupe is net so mooi soos sy baas opgepas. Breytenbach het die Coupe in 1965 gekoop, die laaste van die reeks wat Chev vervaardig het. "Die vroumense het nie van die Coupe gehou nie, want die wind het hulle hare deurmekaar gewaai." Maar hy geniet dit om daarmee te ry en neem graag aan toere deel.
Gawie Breytenbach van Heidelberg by sy 1938 Chevrolet 3100 Coupe.
Toe Autodealer met hom gesels het, was hy saam met nog 25 ander eienaars van ou voertuie op toer in Tsitsikamma. "Dis die sonder-nonsenstoer, want al wat ons doen is eet en drink," vertel hy. "Vanaand slaap ons op Calitzdorp. Ons braai elke middag vleis en kuier lekker."
Daar is 'n paar vroue by die groep mans, maar Lettie, sy vrou, is by die huis op Heidelberg. "Soms ry sy saam, maar die slag moet sy na die twee worshonde kyk."
Die Coupe is nie al ou voertuig wat hy besit nie. By die huis is ook 'n 1933 Chev-lorrie met 'n 2,5 ton bak. "Hy kan laai, hoor." En daar is ook 'n 1952 Vanguard-bakkie, een van net twee in die land.
Sy liefde vir die ou karre kom van sy pa se kant af. "My pa het baie ou karre gehad, want hy het karre gekoop en verkoop," vertel die man wat in Bonnievale gebore is en in Montagu en die Agter-Paarl grootgeword het.
Hy en Lettie is in 1960 getroud en het twee seuns en 'n dogter. "Elkeen van hulle erf een van die ou voertuie."
Hy het verlede naweek aan die Suid-Kaap Oumotorklub se jaarlikse Erfenistoer deelgeneem. Dié toer het in George begin en deur Uniondale, Willowmore en Aberdeen na Graaff-Reinet gery.
Na 'n draai op Jeffreysbaai, was hulle op Dinsdag 24 September terug in George. Gawie was die enigste deelnemer uit Heidelberg.
''Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'