TUINROETE | KAROO NUUS - Group Editors ondersteun die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se Woord van die Week-inisiatief.
Om 'n woord te borg, besoek www.wat.co.za
Spekskiet (spek-skiet) ww., het spekgeskiet. Leuens vertel, grootpraat of oordryf: Jy verdien om ’n goeie hap in die sitvlak te kry deur een van daardie haaie, net omdat jy so spekskiet en my wou bedrieg (P.J. Smit: Die paddaman se akwarium, 1960, 112). Sy verbeelding ruk maklik hand-uit en dan skiet Oelie lekker spek (Unie, Mei 1978, 376). Onlangs nog sê ek vir my ouer broer: “Jong, weet jy, ’n mens hoor nou so baie hoe oom Jêk spekgeskiet het, maar ek self het hom nooit hoor lieg nie” (Landbouweekblad, 19 Nov. 2010, 77).
spek'skietery s.nw.
Uit Ndl. spek schieten, in die verouderde letterlike betekenis “met vetbelaaide vuurkoeëls na ’n vyandelike skip skiet” en die verouderde figuurlike betekenis “iemand met woorde aanval, of reguit die waarheid vertel”.
Vetkoeëls was nie juis vlambaar nie, maar het baie gestink as dit brand. Vandaar wsk. die benoeming spekskiet vir “grootpraat, oordryf of ’n leuen vertel”, omdat leuens beskou kan word as ’n aanslag op die toehoorder.
Aangepas uit: Etimologiewoordeboek van Afrikaans
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'