KNYSNA NUUS - Toe die George-inwoner Keanu Beets Woensdag 15 April by Thesen-eiland in Knysna gaan visvang het, het hy drome van tjokka gehad… maar wat hy uiteindelik "gevang" het, sal enige hengelaar se wildste drome oortref.
En nee, dié is nie nóg een van daardie "die grote het weggekom"-stories nie. Hierdie een het 'n kinkel wat selfs die visse nie sou glo nie.
Beets het aan die Knysna-Plett Herald vertel hy het sy lyn met kunsaas ingegooi met die hoop om dalk 'n tjokka uit te trek toe sy hoek amper onmiddellik aan iets vashaak. "Dit het glad nie soos 'n vis gevoel nie," vertel hy. "Ek het dadelik geweet hier is iets snaaks aan die gang."
Met die inkatrol begin die nuuskierigheid groei - en toe hy uiteindelik sien wat aan sy lyn hang, het dinge vinnig van vreemd na heeltemal surrealisties verander.
Aan die punt van sy lyn was iets wat gelyk het soos die stert van 'n groot vis. Nuuskierig (en seker ook maar effens skepties oor sy eie oë) het hy van die kaai afgespring om dit nader te trek.
Toe wag die eintlike verrassing.
Binne-in die afgebreekte, hol metaalstert, wat lyk soos 'n dolfynstert, het 'n seekat homself tuisgemaak - en nie sommer net rustig nie, maar besig om met sy tentakels vasberade aan die vislyn vas te klou asof hy self die hengelaar wou word.
"Of hy gedink het dis kos, en of hy besluit het hierdie lyn is nou sy vyand, weet ek nie," skerts Beets. "Maar hy was beslis nie van plan om sy vangs maklik te laat gaan nie."
Uiteindelik het Beets die hoek versigtig losgemaak en die taai seekat weer vrygelaat in die water - waarskynlik effens verward oor sy kortstondige loopbaan as hengelaar.
Die metaalstert het egter nie weer die see gesien nie. Beets het dit aan SANParks oorhandig, wat nou probeer vasstel waar dié ongewone oorblyfsel vandaan kom.
Een ding is seker: dis nie elke dag wat 'n mens 'n seekat in 'n metaalstert vang nie. En selfs in Knysna, waar daar soms gróót visvangstories oorvertel word, sal hierdie een moeilik oortref word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’