KNYSNA NUUS - "Ons geveg is vir krag!"
Só het Desmond Sinclair, voorsitter van die Green Acres Valley-buurtkomitee in Hornlee, die desperate situasie van die inwoners opgesom wat sê hulle leef al vyf jaar sonder elektrisiteit - en het nou genoeg gehad van beloftes wat volgens hulle nooit gerealiseer het nie.
Sowat 40 inwoners van Green Acres Valley, onder wie bejaardes en 'n gestremde ma met haar 11 maande oue baba, het Dinsdag vreedsaam na die Knysna-munisipaliteit se kantore opgeruk om antwoorde te eis oor die gebrek aan elektrisiteit, water en behoorlike sanitasie in hul woonbuurt.
Die optog was die jongste uitdrukking van frustrasie in 'n woonbuurt waar inwoners sê hulle het oor die jare heen met munisipale amptenare, 'n wyksraadslid en voormalige munisipale bestuurder Lulamile Mapholoba vergader, maar sit steeds sonder 'n oplossing.
Jeanetta van Wyngaardt, een van die inwoners wat die optog gelei het, sê daar is al talle beloftes gemaak.
"Ons het al gereelde vergaderings met talle rolspelers gehad, maar tot dusver is daar nie aan ons pleidooie gehoor gegee nie," het sy gesê.
Volgens Van Wyngaardt is daar tydens twee vergaderings met die vorige munisipale bestuurder belowe dat Green Acres Valley eerste op die begrotingslys vir elektrifisering geplaas sou word.
"Van dié beloftes het net mooi niks gekom nie."
Elektrisiteit is egter nie die enigste probleem waarmee inwoners worstel nie.
Water, sanitasie, stormwater en die gebrek aan straatligte maak deel uit van 'n groter prentjie van basiese diensleweringsprobleme, sê hulle.
"Dis basiese grondwetlike regte wat in die Grondwet beskerm word, maar ons moet eenvoudig sonder dit klaarkom," het Van Wyngaardt gesê.
Die munisipaliteit het vyf blou mobiele toilette in die gebied geplaas. Volgens inwoners word dit gewoonlik weekliks leeggemaak, hoewel daar soms 'n week oorgeslaan word.
Maar sonder elektrisiteit is selfs die gebruik van dié toilette 'n veiligheidskwessie.
Die toilette staan in 'n oop veld, en vroue en kinders moet snags in die donker daarheen loop.
"Boonop moet sewe mense 'n toilet deel," het Sinclair gesê.
"Daar is slange in die bosse en dit is moeilik om hulle in die donker te sien."
Volgens inwoners was daar reeds verskeie voorvalle in die gebied, waaronder inbrake en 'n verkragting. Twee mense het glo ook hul bene in die donker gebreek.
"Dan praat ons nie eens van ons skoolgaande kinders wat geen krag het om by 'n lig te leer nie. Alles is in donkerte gehul," het Sinclair gesê.
Sommige inwoners gebruik gas om kos te kook, maar wanneer die gas opraak, moet hulle vuurmaak.
Van Wyngaardt, wat self elektrisiteit van haar suster ontvang, sê sy probeer dit met ander inwoners deel wanneer daar nood is.
"Ek help die ander inwoners en stuur niemand terug met leë hande nie. Ons staan saam in die haglike situasie, en daarom ondersteun ons mekaar."
Die inwoners se optog het uiteindelik tot 'n ontmoeting met waarnemende munisipale bestuurder Boy Manqoba Ngubo gelei, waarna hy en van sy amptenare self na Green Acres Valley gegaan voordat 'n besluit oor die pad vorentoe geneem word.
Ngubo het ook gesê amptenare van die munisipaliteit se elektrisiteitsafdeling, onder leiding van Tshepo Lehaba, sal Woensdag 19 Augustus met inwoners vergader om 'n behoeftebepaling te doen.
"Sodra ek al die los drade bymekaar getrek het, kan ons 'n besluit neem oor die pad vorentoe en onsself daartoe verbind," het Ngubo gesê.
Knysna se waarnemende munisipale bestuurder, Boy Manqoba Ngubo (regs), en Tshepo Lehaba (tweede van regs) van die munisipaliteit se elektrisiteitsafdeling, tydens 'n inspeksie van die Green Acke Valley woonbuurt om hulle van die situasie op die grond te vergewis.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’