SEDGEFIEL NUUS - ‘n Finalis van Sedgefield se Miss Full Figure-kompetisie het gistermiddag in ‘n ongeluk op die N2-snelweg by haar tuisdorp gesterf.
Sylvia Tienie, in haar vroeë 30s, het saam met twee ander voetgangers - ‘n vrou en ‘n man - langs die snelweg gestap toe hulle deur ‘n ligte nutsvoertuig getref is. Die voorval het omstreeks 17:00 plaasgevind.
Volgens die provinsiale verkeershoof, Kenny Africa, wou die bestuurder van die voertuig glo ‘n botsing met ‘n ander voertuig verhoed, waarna hy in die voetgangers ingeploeg het.
Tienie, ‘n ma van drie kinders, en die manlike voetganger het op die toneel gesterf. Die identiteit van die tweede oorledene is nog nie bekend nie. Die derde voetganger, ‘n vrou, is ernstig beseer.
Brendon Adams, die organiseerder van die Miss Full Figure-kompetisie, het vanoggend sy skok oor die voorval uitgespreek. “Ons wil graag van ons kant ons meegevoel aan Sylvia se familie uitspreek, en ons waardering vir wat sy vir kankerbewusmaking gedoen het. Sy was baie betrokke in haar gemeenskap,” het Adams gesê.
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Sedgefield, Tuinroete nuus'