KNYSNA NEWS - Die welbekende houtverwerker en vervoerkon-trakteur Dalena Wolmarans van Knysna was onlangs stomgeslaan toe sy tydens haar werk by haar saagmeule op 'n unieke natuurlike motief in 'n stuk swarthout afgekom het wat opvallend baie ooreenstem met die wêreldbekende kunswerk, The Scream deur Edvard Munch.
Wolmarans, 'n derdegenerasie-houthandelaar met, soos sy dit stel, "saagsels in haar are", vertel hoe sy soos gewoonlik besig was om 'n boomstomp op 28 mm in skywe te sny, toe sy op die besonderse beeld afkom.
"Ek was vir 'n wyle net stil. Die motief was só duidelik, en dit het my dadelik laat dink aan 'n kunswerk wat ek al iewers gesien het. Eers het ek gedink dit is dalk Van Gogh, maar toe gaan lees ek op en toe besef ek dis daai een wat vir miljoene verkoop is!" vertel sy.
Oorspronklike kunswerk vir miljoene verkoop
Die skildery The Scream, geskep in 1893 deur die Noorse kunstenaar Edvard Munch, is in 2012 vir $119,9 miljoen verkoop, wat dit een van die duurste kunswerke ooit op 'n veiling maak.
Ikoniese visuele simbool
Die beeld van 'n gekwelde figuur teen 'n stormagtige agter-grond het een van die mees ikoniese visuele simbole van menslike angs en bekommernis geword.
Wolmarans het haar unieke vonds intussen The Shout gedoop, 'n gepaste naam vir hierdie natuurlike weergawe van Munch se meesterstuk.
Dalena Wolmarans. Foto: Fran Kirsten
"Die kans dat só iets gebeur, is een in 'n miljoen," sê sy.
"Een verkeerde sny en die beeld sou heeltemal verlore gewees het. Ek is regtig dankbaar dat dit my beskore was. Persoonlik dink ek nie die oorspronklike kunswerk is juis mooi nie, maar dit word darem wêreldwyd hoog geag."
Die spesiale stuk is reeds gedroog en veilig weggestoor vir bewaring en dalk, net dalk, sien ons The Shout eendag in 'n galery of museum.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’