TUINROETE NUUS - Langasems van George wat nog moet kwalifiseer vir aanstaande jaar se Comrades-marathon of selfs vir Kaapstad se Twee Oseane-marathon, het nou die gulde geleentheid om dit te doen met die gewilde Vlakte-marathon in Hessequa.
Dié jaarlikse marathon op Saterdag 22 November beloof om 'n nog groter sport- en gemeenskapsgeleentheid te wees.
Die wedloop, wat begin in Heidelberg en eindig in die Witsand, mik na 'n rekordgetal inskrywings met sowat 2 200 atlete landwyd wat reeds aangedui het dat hulle gaan deelneem. Wat as 'n plaaslike inisiatief begin het, het intussen gegroei tot 'n erkende kwalifiserende marathon vir die Comrades en die Two Oseane en is vandag 'n trotse uitstalbord vir die Hessequa-streek.
"Die Vlakte-marathon is meer as net 'n wedloop," sê Nico Steyn, voorsitter van die organiseerderspan en verteenwoordiger van Langeberg-atletiekklub. "Dis 'n dag waar sport, gemeenskap en gasvryheid saamkom. Die ekonomiese inspuiting vir ons dorp en omgewing is elke jaar beduidend."
Die marathon bied vier afstande: 42,2 km, 21,1 km, 10 km en 5 km - ideaal vir beide gesoute hardlopers en beginners. Registrasie vind plaas op Vrydag 21 November by die Heidelberg-gholfklub van 12:00 tot 20:00.
Verkeersbeheer sal oral langs die roetes stelling inneem om na die veiligheid van die atlete om te sien.
Inwoners word ook gevra om op die uitkyk te wees vir besige padaktiwiteite tussen 05:00 en 11:00 op die oggend van die wedloop en om sorg aan die dag te lê.
Met die marathonatlete se wegspring om 05:00 is dit nog aan die donker kant en is die atlete nie altyd mooi sigbaar nie. Bestuur dis uiters versigtig.
Die Vlakte-marathon is 'n herinnering dat sport nie net liggame nie, maar ook gemeenskappe versterk.
Selfs die mammas en hul pienkvoetjies kan deelneem.
Daar is altyd ’n paar atlete wat by die eindpunt nog kans sien om te bokspring van pure plesier.
Vir die jonger atlete is daar ’n 10 km-wedloop en ook 5 km-pretdraf om na uit te sien.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’