KNYSNA NUUS - Eden-jaggeweerskietvereniging skop die 2018-jaarprogram af met ‘n kliniek spesifiek gerig op die ontwikkeling van dames en juniors in die Suid-Kaap area.
Belangstellendes, wat die manne insluit, word uitgenooi om by ons aan te sluit op Saterdag 10 Februarie om 09:00 by Louvain gasteplaas in die Bo-Langkloof, ongeveer 64km vanaf Oudtshoorn en 61km vanaf George op die R62, rigting Uniondale.
Bring iets om te eet en drink saam, en genoeg sonskerm.
Oorbeskerming is ‘n vereiste en ‘n skietbril hoogs aan te bevel.
Skietentoesiaste bring hul eie jaggeweer en ongeveer 30 rondtes saam en kom word touwys gemaak deur ons vereniging se nasionale en provinsiale skuts in staan-, sit-, kniel- en lêposisies. Alle ruste en teikens sal voorsien word.
Daar gaan ook op staalplate geskiet word tot op 350m.
Belangstellendes kan geurs Junita van Zyl, Eden Hunting Rifle Shooting Association (EHRSA), skakel by 082 575 9299, of Christo Delport by 079 498 6227.
Hou ook die EHRSA Facebook-blad dop vir verdere inligting asook aanwysings.
Kom maak gebruik van hierdie geleentheid om geheime wenke te kry en ook hoe om verder by die Formule 1 van skietsporte betrokke te raak.
'Ons bring jou die nuutste Knysna, Tuinroete nuus'