Wolmarans se kommer oor Guy Fawkes-vieringe spruit uit ‘n tragiese voorval met klappers waartydens ‘n sesjarige seun, Keason Esau, die sig in sy regteroog verloor het, en sy niggie, Nadine Bondt (11), ‘n vinger aan haar regterhand kwyt is en ander vingers beseer is. Hierdie voorval het op Saterdag, November 5, plaasgevind.
Volgens Bondt en Esau se ouma, Johanna Esau, het hulle hul kinders gewaarsku om nie in die straat te gaan speel of aan onwettige Guy Fawkes-vieringe deel te neem nie.
Johanna vertel, "Ons het nie geld om klappers vir ons kinders te koop nie. Ons weet hoe gevaarlik dit is en het hulle gewaarsku om nie in die straat te gaan speel nie. Nie een van hulle het klappers by ons as voog ontvang nie. Ons het net ‘n harde skoot gehoor wat soos ‘n geweer geklink het. Skielik hardloop Nadine in die huis en skreeu, ’kyk hoe lyk my hand, mamma!’."
Volgens Nadine het haar 11-jarige vriendin se ouma vir haar klappers gekoop. Hierdie vriendin het toe vermoedelik die klapper aangesteek en skielik vir haar gegee terwyl dit brand. "Ek het nie geweet sy het dit alreeds aangesteek nie. Sy het net geskreeu, ‘vat aan die bom’, toe het ek," vertel Nadine Bondt.
Sy vertel hoe Keason Esau se oog beseer is. "Keason het nader na my toe gestaan toe my vriend die bom aangee. Hy het afgekyk toe die bom ontplof het. Ek het toe net bloed gesien. Nie ek of Keason het gehuil nie omdat ons albei te geskok was," vertel ‘n hartseer Nadine. Daar was ten tyde van die voorval geen volwassenes teenwoordig nie.
"Daar was wel nie ‘n grootmens by die kinders toe die voorval gebeur het nie, maar ons het ons kinders gewaarsku van hierdie dinge. Ons het nie aan hulle die klappers verskaf nie en voel omtrent bitter," het Keason Esau se ma, Laurina Esau gesê.
"Keason het op die gras gelê toe ons by hom kom. Die bloed het net geloop. Dit was regtig baie erg gewees. My broer het vir Keason en Nadine in die huis gebring waarna ons privaatvervoer gereël het om hulle na die hospitaal toe te neem. Die ambulans het te lank gevat," vertel ‘n geskokte Laurina.
Nadine is gehaas na die George Provinsiale Hospitaal waar sy behandel is, en Keason is opgeneem in die Rooikruis Hospitaal in Kaapstad, waar hy ‘n noodoperasie ondergaan het.
"Die dokters by Rooikruis Hospitaal het gesê dat Keason nie weer sal sien nie. Hulle wou sy oog verwyder, maar ek het gevra dat hulle dit nie doen nie, omdat my kind nog so jonk is," vertel Laurina. Beide Nadine en Keason se skoolloopbaan vir die jaar is kortgeknip en albei sal eers volgende jaar weer skool bywoon.
‘n Ontstoke Hornlee-inwoner, Winston Arends is bekomerd oor mense se minagting van die wette wat vuurwerke verbied. "Nou moet twee kinders ly deur ‘n volwassene se nalatigheid. Ons moet iets doen in ons gemeenskappe om so iets te verhoed. Die kinders is nie regtig bewus van die skade wat die brand van bande of die aansteek van klappers vir ander mense en diere inhou nie. Hulle gee nie eens om nie," sê Arends.
Arends vertel verder, "Dit is baie hartseer om die kinders so te sien. ‘n Kind van die gemeenskap is net sowel my kind. Hulle sit nou met ‘n gebrek wat verhoed kon word."
Gedurende die onderhoud was dit duidelik dat Nadine steeds geskok is na die voorval. Sy het skielik begin huil en nie verder gepraat nie. Sy het toegekyk hoe die verband oor haar hand geplaas word en hoe haar geliefkoosde nefie sy oogklappie met ‘n glimlag opsit.
"Ek wens die jong kinders ‘n spoedige herstel toe en hoop dat ons gemeenskap kennis sal neem van hierdie ongelukkige voorbeeld," het Wolmarans gesê.
Nadine Bondt (11) wys hoe ‘n klapper haar hand beskadig het.
ARTIKEL: ROZANO ALIE, KNYSNA-PLETT HERALD-JOERNALIS