STILBAAI NUUS - Frans-Hendrik Joubert van Stellenbosch het Saterdagaand, 3 Januarie, net voor 19:00 'n Swinhoestormswael in die branders op Stilbaai-Wes se strand gewaar.
Hierdie ywerige voëlkyker het dadelik besef dit is iets ongewoons en het gehardloop om sy kamera te kry en die nuus so gou moontlik met ander voëlkykers in die omtrek te deel.
Frans-Hendrik hou tans vakansie in Stilbaai en was op daardie oomblik op presies die regte plek.
Die voël was erg beseer en het met laagwater op die rotse agtergebly waar 'n hele klompie voëlkyk-entoesiaste gou saamgedrom het om die oomblik te deel.
Pogings om die stormswael te red was onsuksesvol, en die voël het gevrek.
Hierdie stormswael broei op noordwestelike Stille Oseaan-eilande naby Japan, Korea en China en is 'n seldsame besoeker aan die Suid-Afrikaanse kus. Dit is tot dusver slegs een keer tevore hier opgeteken.
Die voël is sowat 20 cm lank en weeg 38 - 40 g met 'n vlerkspan van 44 - 48 cm, wat hom aansienlik groter maak as die Europese stormswael.
Daar is geen aanduiding hoe hierdie stormswael langs die Suid-Kaapse kus beland het nie.
Die voël staan in Engels bekend as Swinhoe's storm petrel or Swinhoe's petrel (Hydrobates monorhis).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’