TUINROETE NUUS - Die piepklein stompkopkewers, wat moeilik sigbaar is met die blote oog, beskadig steeds bome in George. Natuurkenners het dit verlede Maandag aan George Herald bevestig.
Die stompkopkewer (PSHB) en sy simbiotiese swam saai al van 2018 verwoesting onder bome in George, Mosselbaai en Knysna.
Die Universiteit van Stellenbosch het verlede week in 'n verklaring gewaarsku dat die potensiële impak van die stompkopkewer (polyphagous shot hole borer) op die ekonomie van Suid-Afrika, 'n yslike R275 miljard oor die volgende tien jaar kan beloop, en munisipaliteite sal hierdie las moet dra indien niks gedoen word om hierdie indringer te stuit nie.
Indien niks gedoen word om die verspreiding van die kewer te keer nie, gaan 65 miljoen bome na raming verwyder en tot niet gemaak moet word.
Die DA het ook by monde van Dave Bryant, 'n parlementslid, 'n beroep op Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en omgewing gedoen om dringende leiding oor die aangeleentheid te verskaf.
Volgens Bryant het die party met kommer kennis geneem wat die bedreiging van die kewer inhou.
Lees meer op susterspublikasie, George Herald
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'