NASIONALE NUUS - Sommige van Suid-Afrika se matrikulante moet vanjaar tot agt vraestelle binne net agt skooldae aflê - 'n situasie wat volgens die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) onnodige druk op leerders plaas.
Die organisasie het sy kommer uitgespreek oor die opeenhoping van veeleisende vraestelle in die 2026-matriekeindeksamen, wat Dinsdag 13 Oktober begin het.
Leerders met wiskunde, fisiese wetenskappe, rekeningkunde en Engels skryf tussen 22 Oktober en 2 November sewe vraestelle binne agt skooldae. Op 28 Oktober moet hulle boonop Engels vraestel 1 in die oggend en rekeningkunde vraestel 2 in die middag aflê.
Vir sekere ander vakkombinasies kan die werklading tot agt vraestelle in dieselfde tydperk styg.
"'n Eksamenrooster moet daarom nie net rondom 'n kalender beplan word nie, maar ook ouderdoms-gepaste druk, emosionele welstand, voorbereidingstyd, voldoende rus en verstandelike moegheid in ag neem," sê Maryke Bellingan, onderwysspesialis by die SOS.
Die SOS het reeds in Junie die departement van basiese onderwys versoek om die rooster te hersien. George Herald het ook in Mei berig dat Hoërskool Outeniqua se skoolhoof, Christo Vorster, vroeër vanjaar 'n soortgelyke versoek aan die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, gerig het.
Vorster het gewaarsku dat die opeenhoping van veeleisende vakke leerders onnodig onder druk plaas. Die George-burgemeesterskantoor het sy versoek amptelik ondersteun.
Eksamentoegewings
Die SOS waarsku ook dat leerders met eksamen-toegewings besonder swaar getref kan word. Twee drie-uur-vraestelle op een dag kan vir dié wat ekstra skryftyd ontvang, tot sewe en 'n half uur se eksamentyd beteken.
Volgens die SOS moet eksamenowerhede verseker dat elke leerder 'n billike geleentheid kry om sy of haar kennis te demonstreer.
Altesaam 962 832 kandidate het vir vanjaar se NSS-eksamen geregistreer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’