RHEENENDAL NUUS - Die Miss Full Figure-kompetisie wat onlangs in Rheenendal Primêr se skoolsaal gehou is, was 'n kleurvolle en inspirerende hoogtepunt vir die gemeenskap.
Carla Jacobs is as die wenner gekroon met Jolene Cassim en Yondelwa Velelo as eerste en tweede prinses onderskeidelik.
Volgens organiseerder en bekende gemeenskapswerker Leon Oelf was die geleentheid 'n groot sukses en nog 'n mylpaal in sy voortdurende poging om jongmense van die negatiewe invloede in die gemeenskap soos dwelms weg te hou sowel as om gemeenskapseenheid en samehorigheid te kweek en versterk.
Oelf, wat reeds jare lank gemeenskapsprojekte in Rheenendal aanbied, waarvan kaskarwedrenne maar net een is, sê sy inspirasie spruit uit die werklikheid waarmee baie jongmense daagliks worstel.
"Dwelms is 'n groot probleem in ons gemeenskap. Ek wou 'n manier vind om kinders besig te hou met positiewe aktiwiteite sodat hulle nie aan die verkeerde kant van die lewe beland nie," sê Oelf.
"Speletjies en modelkompetisies het 'n manier geword om hulle van die straat af te hou en selfvertroue te bou. Die ondersteuning van die gemeenskap by elke event wys dat die programme werk. Ek sien hoe kinders meer selfvertroue kry en hoe hulle minder op straat rondhang."
Bou van vaardighede en toekomsgerigte jongmense
Oelf sê die kaskar- en modelaktiwiteite speel 'n kritieke rol in die ontwikkeling van jongmense.
"Deelnemers leer spanwerk, dissipline, respek, sportmanskap en leierskap-vaardighede wat hulle later in die lewe kan gebruik. Dan ontwikkel die modelkompetisies kreatiwiteit en help kinders om met selfvertroue voor mense te verskyn."
Oelf beklemtoon dat die programme doelbewus inklusief gehou word; dit is hoekom speletjies in die informele nedersetting gratis is.
Selfs waar daar 'n klein deelnamefooi gevra word, ontvang kinders steeds pakkies en pryse om almal betrokke te laat voel, verduidelik hy.
Suksesverhaal wat terugploeg
Een van die grootste inspirasieverhale uit die projek is dié van Rethea November, wat vyf jaar gelede aan Mej Vol Figuur in George deelgeneem het en as Mej Persoonlikheid gekroon is.
Die ervaring het haar só gemotiveer dat sy teruggekeer het na Rheenendal om dieselfde tipe kompetisies te ondersteun en ander jongmense aan te moedig.
Uitdagings
Soos vele gemeenskaps-inisiatiewe ervaar die projek finansiële en logistieke struikelblokke. Volgens Oelf dra hy dikwels die meeste koste self, terwyl borgskappe skaars is en logistiek soos vervoer en veiligheid deeglike beplanning verg.
Nietemin, vertel hy, word die projekte staande gehou deur 'n toegewyde komitee, vrywilligers en die breër gemeenskap.
"Plaaslike besighede skenk gereeld vouchers, en die raadslid bied finansiële hulp. Dan help gemeenskapslede ook met toesig, die voorbereiding van pakkies en die skep van 'n positiewe, veilige omgewing vir alle deelnemers wat ook van groot waarde is."
Visie vir die toekoms
Vir die toekoms droom Oelf van selfs groter projekte. Die doel bly onveranderd: om meer kinders van die straat af te kry en toekomstige leiers te ontwikkel.
Sy raad aan ander gemeenskapsleiers is om klein te begin, nie tou op te gooi nie, en om saam te werk met die gemeenskap: Uit die gemeenskap - vir die gemeenskap.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’