SEDGEFIELD NEWS - Tessa Joubert, 'n ontvanger van die Sedgefield Ratepayers & Residents Association se Celebrate Sedgefield-toekenning in 2023, word nou deur 'n ontevrede ontwikkelaar vir R5 miljoen gedagvaar oor haar teenkanting teen die bou van 'n boetiekaftreekompleks op 'n kusduinsone in die dorp.
Joubert se aktivisme het volgens die ontwikkelaar, Sandpiper Nature Reserve in Knysna, 'n vertraging van 14 maande veroorsaak.
Volgens hofstukke in Knysna-Plett Herald se besit, sê Sandpiper dat die maatskappy 'n verlies van amper R4,9 miljoen gely het weens opgehoopte boukoste, en dat hy 'n verdere R119 570 op regs- en konsultasie-kostes moes spandeer.
Sandpiper beweer dat Joubert die vertra-ging veroorsaak het deur 'onwettig en onjuis' teen die projek beswaar te maak.
'Dis 'n SLAPP'
Joubert is egter van mening dat sy geregtig was om besware in te dien, en dat die R5 miljoen-eis van die ontwikkelaar bloot 'n stilmaak- en intimidasietaktiek teen haar en ander omgewingsaktiviste is.
Volgens Joubert is die ontwikkelaar besig om 'n SLAPP-proses (Strategic Lawsuit Against Public Participation) aanhangig te maak om haar in haar spore te stuit.
'n Kunstenaarsvoorstelling van die beplande boetiekaftreekompleks op 'n kusduinsone in Sedgefield. Foto: Eco Route Environmental ConsultancyIn regsterme is 'n SLAPP-regsaak 'n regsgeding wat ingedien word om opposisie, veral dié wat menings uitspreek oor sake van publieke belang, te ontmoedig deur hulle te dwing om tyd en geld aan duur regsaksie te bestee.
'Dis NIE 'n SLAPP'
By navraag het Sandpiper se Richard Sohn, aangedui dat die saak later vanjaar voor die hof sal dien. "Ons kliënt voer aan dat hulle as gevolg van Tessa Joubert se optrede, wat hulle voel onredelik was, bykomende uitgawes aangegaan het en vertraag is in die uitvoering van hul projek, wat hulle finansiële verlies veroorsaak het.
Joubert voer aan dat die aksie ingestel is om haar stil te maak. Niks kan verder van die waarheid wees nie. Ons kliënt hoef haar nie stil te maak nie, aangesien die regte wat hulle gesoek het, toegestaan is. Dit sal vir die howe wees om te bepaal of Joubert redelik en regmatig opgetree het," lui hul verklaring.
Nema 'beskerm my'
Joubert sê egter dat sy onder die Nasionale Omgewingsbestuurswet (Nema) beskerm word, en dat sy die reg het om beswaar teen die ontwikkeling te maak.
Hierdie wet beskerm enigiemand wat getuienis van 'n moontlike omgewingsrisiko openbaar teen siviele aanspreeklikheid. Joubert is van mening dat haar besware in die regsraamwerk val en dat sy dus geen skuld dra nie.
Sandpiper Nature Reserve ontken egter dat die erf ter sprake 'n ekologies sensitiewe gebied is en beskryf die grond eerder as 'n "herstelde stortterrein".
Hierdie teenstelling oor die omgewingstatus van die grond is een van die kernpunte van die regsgeveg. Sandpiper beweer dat die vertraging onregverdig was en dat die ekologiese besware ongegrond was.
Dit blyk dus dat die bouproses nog vir etlike maande sal sloer hangende die uitkoms van die hofsaak. Die hofuitspraak sal ook 'n waterskeidingsaak wees vir soortgelyke aktiviste in die toekoms.
SANParke
By navrae het SANParke bevestig dat hulle amptelik ook beswaar gemaak het teen die ontwikkeling van die boetiekaftreekompleks op die betrokke erf omdat dit volgens hulle die biodiversiteit bewaring en landskap konnektiwiteit sal benadeel.
Joubert se prokureur, Richard Summers, het teen druktyd nog nie op Knysna-Plett Herald se navrae gereageer nie. Enige kommentaar wat ontvang word sal aanlyn bygewerk word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’