OUDTSHOORN NUUS - Die ouditeur-generaal het 'n ongekwalifi-seerde oudit aan die munisipaliteit vir die 2018/2019 boekjaar toegeken. Hierdie nuus is hierdie week deur Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die munisipaliteit bevestig.
Die verslag toon dat Oudtshoorn se finansiële bestuur sedert 2104/2015 toe hulle 'n swak "negatiewe oudit-opinie" ontvang het intussen baie verbeter het. Die munisipaliteit het die afgelope drie jaar gekwalifiseerde oudits ontvang. Volgens Mangqwengqwe het die ouditeur-generaal sommige kwessies benadruk wat nog moet verbeter alvorens 'n skoon oudit verwerf kan word.
'n Ongekwalifiseerde oudit toon dat daar geen wanvoorstellings in finansiële state voorkom nie en is so in die persverklaring verwoord:
"Unqualified Audit Opinions: The financial statements contain no material misstatements. Findings may have been raised on either reporting on predetermined objectives or non-compliance with legislation, or both these aspects."
Die hoofkwessie wat deur die ouditeur-generaal beklemtoon is, is die voorkoms van onreëlmatige uitgawes. Wat hierdie term aanbetref sê die ouditeur-generaal egter dit is belangrik om wanpersepsies oor "onreëlmatige uitgawes" aan te spreek.
Onreëlmatige uitgawes beteken nie dat geld gesteel of wanbestee is nie. Opsommenderwys is onreëlmatige uitgawes geld wat aangewend is vir dienste, maar nie volgens voorgeskrewe munisipale finansiële wetgewing en volgens die voorgeskrewe voorsieningskettingbetuursprosesse (supply management chain) nie. Dit blyk dat die groot sondebok hier betalings is wat nie in ooreenstemming is met die voorsieningskettingbestuursbeleid nie.
Die ouditeur-generaal vereis dat alle onreëlmatige uitgawes ondersoek word en volgens munisipale finansiële wetgewing die sogenaamde MFMA aan die raad oorgedra word vir optrede.
Allen Paulse, Oudtshoorn se munisipale bestuurder, het sy waardering uitgespreek teenoor almal binne die munisipale strukture wat bygedra het tot die verwerwing van die ongekwalifiseerde ouditverslag.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'