GEORGE NUUS - Die gewilde Outeniqua-rolstoelwedren (OCC) in George, wat op 5 Maart gehou sou word, gaan nou eers op 15 Oktober plaasvind.
Dit is verlede Donderdag, 20 Januarie, tydens die algemene jaarvergadering van die Disabled Road Race Foundation (DRRF) by Carpe Diem skool aangekondig.
Die OCC vind onder die vaandel van die Disabled Road Race Foundation plaas.
Die plan was om dit in September of Oktober verlede jaar te hou, maar Covid-19 het die plan gekelder. Dit is toe tot Maart vanjaar uitgestel. Die OCC is laas in Februarie 2020 gehou, kort voor die begin van die Covid-19-pandemie.
Alewijn Dippenaar, geleentheids-direkteur, het tydens sy voorlegging gesê die besluit om uit te stel kom na deeglike oorweging en is hoofsaaklik as gevolg van die beperkinge op getalle vir buiteluggeleenthede.
Hy het ook 'n oorsig gegee van die finansiële uitdagings waarmee die organiseerders te doen kry om dit as 'n internasionale geleentheid aan te bied. Om dit te kan doen, word sowat R1,5 miljoen benodig.
In die stadium subsidieer baie van die deelnemers hulself. Hulle moet self opdok vir byvoorbeeld petrol en akkommodasie.
Volgens Dippenaar het die organiseerders regtig meer geld nodig om die atlete te steun. Die feit dat dit uitgestel word, gee die organiseerders egter meer tyd om nog borge te vind.
Dippenaar het Maandag gesê die atlete se gesondheid is prioriteit. "Ons wil niemand aan risiko's blootstel nie."
Lees meer op susterskoerant, George Herald
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'