KNYSNA NUUS - Knysna United-rugbyklub se A-span het verlede Saterdag op Loeriepark in hul wedstryd teen Prins Albert van vroeg af die toon aangegee in 'n ware fees van drieë.
United het uiteindelik die wedstryd met 'n allemintige 81-24 gewen.
Die voorspelers het die fondasie gelê, terwyl die agterspelers die geleenthede met oorgawe benut het.
Teen halftyd was Knysna reeds 50-17 voor, en die oorheersing is voortgesit in die tweede helfte.
Alhoewel Prins Albert nie tou opgegooi het nie en 'n waardevolle bonuspunt huis toe geneem het vir hul vier drieë, was Knysna eenvoudig te goed op die dag.
United se drieë is gedruk deur Matthew Blaaw (2), Elrico Wynand (1), Lorihanno Wagenaar (2), Cullen Cole (1), Chesslyn Draai (1), Bradley Saptoe (2), Kirsten Ruiters (1), Divan van Rooyen (1) en Oneal Nanko (1).
Bradley Saptoe het sewe doelskoppe oorgeskop terwyl kaptein Eurecian Daniels, wat op stut gespeel het, ook drie doelskoppe deur die pale gejaag het.
Die tweede span het ook hul wedstryd gemaklik met 54–22 gewen.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’