TUINROETE | KAROO NUUS - “Ag wat, ek gaan my kind na ‘n Engelse skool toe stuur. Die wêreld is tog Engels.” Afrikaans.com sê: “Meneer, mevrou … nee!”
Ons weet al hoe meer ouers wonder of dit regtig nog die beste is om hulle kinders in hulle moedertaal te laat skoolgaan. Veral as ‘n mens in ag neem dat die meeste tersiêre instellings en die ekonomiese wêreld, internasionaal en ook plaaslik, Engels as voertaal gebruik.
Tog kan ons met oortuiging sê: Jou moedertaal laat jou presteer.
Om onderrig te ontvang in jou moedertaal laat jou uitstyg bo die gemiddelde en gee jou die vermoë om op dieselfde vlak met die bestes in die wêreld saam te kan praat.
Kinders het hul moedertaal nodig om hul kognitiewe ontwikkeling te verseker.
Kinders leer makliker lees en skryf in hul moedertaal. Skrif is ’n tegniese aktiwiteit waardeur taal uitgedruk word en anders as gesproke taal, ontwikkel dit nie spontaan nie.
Dit is baie makliker vir kinders wat in hul moedertaal leer lees en skryf om die konneksie tussen gesproke en geskrewe taal te maak. As jy leer lees het in ’n taal wat vir jou maklik is, is dit soveel makliker om konsepte en vaardighede in ’n tweede of derde taal oor te dra.
Die ontwikkelingsvlak van ’n kind se moedertaal is ’n sterk voorspeller van die ontwikkelingsvlak van ’n kind se tweede taal omdat hulle uit hul onderliggende taalstelsel en hul bestaande taalkennis kan put.
As ’n kind byvoorbeeld in Afrikaans tydkonsepte leer, hoef hulle nie weer die totale tydsbegrip in Engels te leer nie, maar slegs die oppervlakgegewens, m.a.w. die Engelse woorde.
Hulle het reeds die intellektuele basis en begrip. Ander intellektuele begrippe soos oorsaak en gevolg, of om tussen hoofgedagtes en ondersteunende detail te kan onderskei, word gemaklik vanuit die moedertaal tot ’n tweede taal oorgedra.
Troos jou daaraan …
Dit is amper onmoontlik vir kinders om nie Engels in ons land aan te leer nie. Daarom is dit jou taak as ouer om seker te maak jou kind leer sy moedertaal aan, want so verseker jy dat hy later meertalig gaan wees.
- Gaan lees meer oor moedertaalonderrig – die voordele, die navorsing en meer op Afrikaans.com.
- Onderwysers en tuisskolers: Gaan kyk op Afrikaans.com se leerhulpafdeling vir ‘n keur plakkate vir jou klaskamer.
Verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'