PLETTENBERGBAAI - Jaguars het verlede Saterdag 'n naelbyt-oorwinning van 32-29 oor Uniondale op hul tuisveld behaal in 'n titaniese stryd vir 'n top 4-posisie op die punteleer teen die halfpadmerk van die seisoen.
Hierdie oorwinning bring mee dat Jaguars na ses wedstryde vanjaar steeds onoorwonne op hul tuisveld is.
Die wedstryd, wat deurentyd op 'n mespunt gebalanseer was, het die toeskouers op hul voete gehou met briljante spel deur albei spanne.
Kaptein en slot Thapelo "Bakkies" Dywili het weer sy staal gewys en van voor gelei met sy kenmerkende stormlopies.
Uniondale het in die tweede helfte sterk teruggeveg, maar die tuisspan het vasgebyt en met steun van die geesdriftige skare die oorwinning vasgemaak. Die opkoms was weer besonders, en die ondersteuning van die gemeenskap het 'n duidelike verskil gemaak.
Terugslag met afrigter
Jaguars moes die wedstryd sonder hul hoofafrigter, Siya Kasibe, aanpak omdat sy ma onlangs in die hospitaal opgeneem is.
Via 'n video-oproep ná die wedstryd het Kasibe sy trots uitgespreek: "Ons het vandag nie net 'n belangrike oorwinning behaal nie, maar ook 'n plek in die top-4 verseker.
"Hierdie posisie gaan belangrik wees soos die toernooi toeneem in intensiteit. Ons verwelkom die kort breek en sal dit gebruik om spelers se beserings te evalueer en ons benadering aan te pas."
Jaguars B wys hul staal in voorwedstryd
Jaguars se B-span het die dag se verrigtinge begin deur Uniondale met 25-19 te wen. Dit was die ideale grondslag vir die hoofwedstryd.
Volgens Kasibe toon die span duidelike vordering en verskeie spelers begin nou hand opsteek vir opname in die A-span. "Die inklusiwiteit van jong spelers is 'n bewys dat harde werk en toewyding beloon word, wat 'n inspirasie vir alle opkomende talent in die klub is," het Kasibe gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’