TUINROETE | KAROO NUUS - Nuwe regulasies rakende die heropening van laerskole en maatreëls om die verspreiding van Covid-19 aan te spreek, te voorkom en te bekamp, laat onderwysers met meer vrae as antwoorde.
Die gewysigde regulasies wat op Vrydag 28 Mei in die Staatskoerant gepubliseer is, dui aan dat alle laerskoolleerders (gr. R tot 7) asook alle leerders aan spesiale skole (gr. R tot 12) vanaf 26 Julie - die eerste dag van die derde skoolkwartaal - na daaglikse skoolbywoning en die tradisionele roostermodel moet terugkeer.
Maar, hoe gemaak met die verpligte een meter fisiese afstand tussen leerders?
Die regulasies dui aan dat skole "waar prakties moontlik" aan die sosiale afstand en Covid-19-veiligheidsmaatreëls moet voldoen. Indien dit nie moontlik is nie moet hulle skriftelik aandui waarom nie, en watter stappe hulle neem om die daaglikse skoolbywoning van leerders te verhoog.
Dit is presies waar die verwar-ring begin. Die fisiese afstand van een meter is nog nie in enige amptelike skrywe herroep nie en die nuwe regulasies is stil hieroor. In hierdie stadium moet die fisiese afstand van een meter steeds toegepas word totdat daar amptelike uitsluitsel is.
Direkteur van die onderwys-distrik Eden en Sentraal-Karoo, Jewel Jonkers, het gesê dat die Wes-Kaapse departement van onderwys hieroor navraag gedoen het, vir verdere duidelikheid, en tans wag op 'n antwoord. "Ons sal met die publiek kommunikeer sodra ons meer duidelikheid daaroor het," het Jonkers gesê.
Luidens die nuwe regulasies sal die mate waartoe die pandemie in sekere areas uitbreek skool-bywoning beïnvloed. Skoolbywoning in areas wat as brandpunte verklaar word sal steeds op 'n rotasiebasis plaasvind.
Hoërskole gaan voort om 'n gedifferensieerde roostermodel te gebruik volgens kapasiteit en hulpbronne, en moet 'n fisiese afstand van minstens een meter handhaaf.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'