MOSSELBAAI NUUS - Diegene wat Delvin Safers se storie van die George-gebouramp gedurende Mei gevolg het, het nou die geleentheid om sy verhaal in boekformaat te kry.
Safers het onlangs 'n boek saamgestel oor sy ervaring tydens die gebou-ineenstorting - hy was vir meer as 20 ure onder bourommel vasgevang.
Dié boek, Delvin Leef! Hoop en Geloof in die George Gebou ramp, word vandag, 3 Oktober, by die Mosselbaai-stadsaal om 19:00 vrygestel.
Verskeie aspekte het hom deurgedra in daardie ure onder die bourommel, maar sy geloof en die hoop om sy 2-jarige seuntjie weer te sien, het 'n groot rol gespeel.
"Daar is baie min stories waar gewone werkers as helde uitgebeeld word en dit is uiters skaars dat ons stories rondom 'n ramp sien waar die medemenslike medelye so sterk na vore kom," sê hy.
Hy sê dit het hom nie net gehelp om deur sy trauma te werk nie, maar sal ook hopelik dien as inspirasie vir die wat dit nodig het.
"Die boek bevat 'n gedetailleerde, nog nooit tevore vertel, weergawe van die ervaring en wonderlike foto's om die verhaal aan te vul. Die boek bevat ook al die dramatiese elemente van 'n groot verhaal wat sekerlik lesers sal boei," sê hy.
Vir enige verdere besonderhede oor die boekbekendstelling of om 'n kopie van die boek te bekom, kontak vir Delvin (065 725 5202) of sy pa, Deon (082 712 9391).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’