TUINROETE NUUS - Ná die verwoestende brande in Knysna en omgewing het hulp van alle kante ingestroom. Mense het gegee en gehelp om die onmiddellike fisiese nood te help verlig, maar daarna moes die slagoffers ook gehelp word om die emosionele pyn van hierdie trauma te verwerk.
"Heelwat organisasies en persone het na vore getree om hiermee te help en hierdie ramp het selfs ou onverwerkte pyn losgemaak," sê Chantelle de Bruin, wat onlangs 'n opleidingsessie in traumaberading bygewoon het.
Die NG Kerk Knysna het die vier oggenddienste tydens die Julie-skoolvakansie gebruik om mense te help met die emosionele verwerking van die gevolge van die brande.
Die gemeenteleraar, ds. Eugene Barnard het vir ds. Louis Hough van George genader wat al nege jaar traumaberading doen en opleiding gee in die gebruik van 'traumatiese gebeure vermindering' (traumatic incident reduction).
Hy het saam met ds. Barnard ‘n tipe traumabehandeling tydens die eredienste gefasiliteer wat individue geleentheid gegee het om hul ervarings te kon deel.
"Baie mense het getuig hoe hulle hierby gebaat het, en heelwat het begin belangstel in individuele berading," sê De Bruin. Verskeie organisasies het ds. Hough versoek om die traumaopleiding, wat mense in staat stel om ná net vier dae die tegnieke self effektief te kan gebruik, in Knysna te kom aanbied.
Die mense wat die opleiding bygewoon het saam met die twee leraars, ds. Louis Hough (middel voor) en ds. Eugene Barnard van die Knysna NG-gemeente (regs voor).
Vyftien persone van die Tuinroete, onder meer ook van George, het die opleiding van 28 tot 31 Augustus voltooi. Buiten die beradingspan van Knysna-gemeente was maatskaplike werkers van Famsa en Badisa ook teenwoordig.
"Almal was in ekstase oor dit wat hulle geleer het asook oor hoe maklik en effektief die tegnieke werk. Sukses word meestal in selfs net een sessie bereik. En dit kan in ‘n wye verskeidenheid gevalle gebruik word," sê De Bruin.
Ds. Hough beplan om die opleiding ook volgende jaar in George aan te bied.
Belangstellendes kan hom kontak by louishough@telkomsa.net.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'