KNYSNA NUUS - Emma-Lee Lombard, voormalige leerder van Knysna Primêre Skool, is onlangs tydens Hoërskool Langenhoven in Riversdal se Mej. Langenhoven-kompetisie as Mej. Langenhoven Junior gekroon.
Die geleentheid, wat in die skool se saal plaasgevind het, het die gewilde TV-reeks Bridgerton as tema gehad, en deelnemers het vir die eerste ronde kostuums gedra wat perfek by die era en atmosfeer van die reeks ingepas het.
Lombard het uitgeblink in 'n pragtige Bridgerton-geïnspireerde rok, ontwerp en gemaak deur Lynn Kayster.
Daarna het finaliste in elegante aanddrag op die verhoog verskyn vir die finale ronde, waarna die wenners van beide die senior- en junior kategorieë aangewys is.
Emma-Lee is ook 'n talentvolle sportvrou wat presteer in tennis, atletiek, en veral netbal.
Haar uitmuntende prestasies het haar die titel van Sportvrou van die Jaar in 2023 besorg nadat sy op nasionale vlak vir die Wes-Kaapse o.12-netbalspan gekies is.
Tans is sy 'n gr. 9-leerder aan Hoërskool Langenhoven en 'n trotse inwoner van die skoolkoshuis. Sy balanseer haar akademiese verantwoordelikhede met haar passie vir sport en geniet ook die kameraderie en aktiwiteite wat koshuislewe bied.
Die Mej. Langenhoven-kompetisie is jaarliks een van die hoogtepunte op die skool se kalender.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’