RHEENENDAL NUUS - Die Lapland-plakkers-kamp het onlangs 'n groot mylpaal bereik met die oprigting van sy eerste watertenk, 'n projek wat as 'n belangrike stap beskou word om brandgevare en watertekorte in die gemeenskap aan te spreek.
Die inisiatief is deur die gemeenskap self gelei en deur plaaslike rolspelers en jongmense van die area ondersteun.
Die projek is van stapel gestuur deur Shane Nassief, wat fondse ingesamel het met die hulp van vrywilligers van naburige plase.
Volgens gemeenskapsleier Leon Oelf is die primêre doel van die watertenk om vinnig water beskikbaar te hê om vure in en rondom die kamp te blus.
"Die tenk sal ook help indien daar weer huishoudelike waterprobleme ontstaan. Die projek het altesaam R10 000 gekos en bewys die krag van gemeenskapsamewerking.
BUCO het'n derde watertenk geborg en beplanning om 'n tweede tenk op te rig, is reeds aan die gang," het Oelf gesê.
Oelf het sy dank uitgespreek teenoor Hilton Stroebel, plaaslike raadslid, vir sy betrokkenheid, Riaan Barnard vir die verskaffing van houtmateriaal en Whyan Rikson vir die loodgieterswerk.
Oelf het gesê hy hoop die watertenk sal 'n blywende impak hê op die veiligheid en lewenskwaliteit van die inwoners van Lapland.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’