TUINROETE NUUS - Die 55ste Suid-Afrikaanse Toutrekkampioenskappe, aangebied deur Helderberg Toutrekklub, het die afgelope naweek met groot sukses verloop.
Altesaam 126 spanne uit sewe provinsies het aan die kampioenskappe deelgeneem.
Verskeie van Eden-toutrek se spanne was ook daar en het puik vertonings in beide die president- en premier-afdeling opgelewer.
Premier-afdelinguitslae
Twee spanne, die 540 kg vroue en 560 kg junior A-span, het met goue medaljes weggestap. Die 500 kg vroue, 680 kg mans A en 580 kg gemengde A-span het silwer behaal, en die 560 kg junior B-span brons.
President-afdelinguitslae (ontwikkeling)
Hier het Eden ook twee goue medaljes ingepalm, een deur die 600 kg mans A-span en die ander deur die 580 kg gemengde B-span.
Die 680 kg mans se C-span het silwer gewen. Daar was ook vier bronsmedaljes vir die volende spanne: 600 kg mans B, 680 kg mans B, 580 kg gemeng C en 560 kg gemeng (o. 23) A.
Verskeie Eden-atlete is ná afloop van die kampioenskappe vir die Suid-Afrikaanse nasionale spanne gekies. Hulle begin nou met voorbereiding vir die Wêreldtoutrekkampioenskappe wat van 17 tot 19 September in Hartenbos aangebied word.
Eden-toutrek moedig die publiek aan om hierdie wêreldklasbyeenkoms by te woon. Kaartjies is op Webtickets beskikbaar.
Eden se 540 kg vrouespan se bestuurder, Cornell Malherbe, saam met spanlede Michelle Nieuwoudt, Elna Fourie, Amelia Lubbe, Kittie Terblanche, Nadia Bruce, Orpa Haggard, Arenda Matthys en Marinell Meyer. Foto: leezelle C Tug of War Photography
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’