PLETTENBERGBAAI NUUS - Jaguars-rugbyklub het Saterdag 'n kragtige vertoning gelewer met beide hul A- en B-spanne wat oorwinnings behaal het teen Sedgefield Eagles in hul Super-B-ligawedstryd.
Die wedstryde, wat op Jaguars se tuisveld Neverland gespeel is, was propvol opwinding met harde kontak van begin tot einde.
Jaguars se A-span het vanaf die afskop hul stempel afgedruk.
Die vaste vyf het oorheers en die lostrio het die afbreekpunte beheer, wat vinnige aanvalle moontlik gemaak het. Vyf drieë is in die eerste helfte gedruk, met twee doelskoppe suksesvol oorgeklits. Rustyd was die telling 29-15.
'Bomb squad'
Die besoekers het egter ná rustyd met hernieude vuur teruggekeer en die telling tot 29-22 verklein.
Siya Kasibe, afrigter van Jaguars, het toe sy "bomb squad" van die plaasvervangerbank gestuur in 'n poging om weer die oorhand te kry.
Monsterstrafskop
'n Monsterstrafskop van 45 meter het Jaguars 'n bietjie beweegruimte op die telbord gegee (32-22), maar die Eagles het nie gaan lê nie en 'n pragdrie onder die pale gedruk wat die telling op 32-29 te staan gebring het, met slegs sewe minute se spel oor.
Jaguars het egter in die doodsnikke 'n strafskop deur die pale gejaag wat die wedstryd finaal nek omgedraai het. Jaguars wen 35-29 terwyl hul B-span ook aan die wenkant was met 21-3.
Kasibe het na afloop van die wedstryd gesê dat daar steeds harde werk is wat voorlê vir die span:
"Die jong spelers het vandag karakter gewys. Ons fokus nou op die munisipale paasrugbytoernooi wat Saterdag op Neverland plaasvind."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’