RUBRIEK - As pres. Cyril Ramaphosa se binnekring adviseurs in die aflaai-en-ry-sone van die George-lughawe op die laaste oggend van Julie was, sou hulle goeie advies aan hom kon oordra.
Hulle sou net soos die mense wat Saterdagoggend, 31 Julie, daar was, kon vertel van tonele van uitbundige vreugde en eensgesindheid. Hulle sou vir hom kon vertel van die baie mense wat daar was.
Van die oues en die jonges. Van die verskillende rasse. Van die verskillende tale. Van 'n singende koor wat trane in mense se oë gebring het. Van mense wat met branderplanke opgedaag het om 'n erewag te vorm. Van 'n regte egte Olimpiese Spele silwermedalje.
Ek was ook daar en sou dit vir pres. Ramaphosa kon bevestig. Vir 'n rukkie was daar 'n andersheid daardie oggend in die lug. Dit het so vreemd gevoel, want dit is iets wat baie Suid-Afrikaners nie meer so gereeld in ons mooi land beleef nie.
Dit was vir myself 'n reis na iets besonders danksy my beroep as joernalis. Ek het die aanloop beleef. 'n Paar weke vroeër het ek met Bianca Buitendag gesels wat op 31 Julie die silwermedalje huis toe gebring het in die branderplankry vir vroue.
Ons het voor haar vertrek gesels. Die eerste keer telefonies en toe 'n paar dae voor haar vertrek na die Olimpiese Spele in Japan, het ons persoonlik by Victoriabaai ontmoet. Daar waar belangrike fondamente vir haar branderplankryloopbaan gelê is.
My eerste indrukke van die aangewese Olimpiese deelnemer was iemand met die regte temperament om op die hoogste vlak te kan presteer en ook iemand wat baie beskeie is. En toe kom die Olimpiese Spele bietjie meer as 'n week later en met haar branderplank ry Bianca letterlik op die golwe na sukses in die see by Japan. .
Bianca het iets reggekry wat min Suid-Afrikaners nog kon: 'n medalje wen by die Olimpiese Spele. Ons hier in George kon net soos miljoene mense regoor die wêreld op televisie sien hoe sy die golwe in die see in Japan ry.
Nieteenstaande die prestasie het sy nie die verwelkoming verwag wat daardie oggend, minder as 96 uur later na die wen van haar silwermedalje, in die aflaai-en-ry-sone van die lughawe op haar gewag het nie.
LEES MEER: Welkom terug Bianca
Toe Bianca daar met die silwermedalje in die heerlike winterson uitstap het iets gebeur. Al was dit net vir 'n rukkie. Die fokus was gemene delers - lees raakpunte en nie algemene verdelers - lees verskilpunte. Mense was trots op haar en hulle het dit gewys.
Pres. Ramahosa se adviseurs sou na die geleentheid na hom kon teruggaan en sê: "Meneer die President, ons het iets daar in George gesien. 'n Sterk soort gom. Ons moet van daardie gom in die hande kry. Sommer baie meneer die President.
"Daardie gom bind mense saam en ons land het dit so nodig meneer die president. Ons moet help dat daar meer Bianca Buitendags uitstyg en presteer. Sport is deel van daardie gom wat ons kan saambind om te kan ry op die golwe na die toekoms. Meneer die president, ons land is dors vir hoop, vrede en sukses."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'