Dit was die eerste keer dat ‘n streekskampioenskap in Knysna gehou is.
"Volgens alle aanduidings was dit ‘n reuse sukses en het beide deelnemers en toeskouers dit baie geniet," sê Pippa Philip van Caledon, sekretaresse van die Wes-Kaapse streekklub van SASDA.
Dié organisasie bied jaarliks streekskampioenskappe op uitnodiging van hul verskillende klubs aan, waaruit die beste honde aan die einde van die jaar aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe deelneem om mee te ding vir die titel van SA Kampioenhond.
"Gedurende die jaar maak die top honde en hul afrigters punte bymekaar," verduidelik Martie Ferreira, nasionale sekretaresse van SASDA.
Honde neem in vier klasse deel, naamlik beginners, juniors, seniors en top honde.
"As ‘n beginnerhond moet die hond 85% behaal om na die juniorklas toe te skuif. In die juniorklas moet die hond weer 80% behaal om vir die seniorklas te kwalifiseer en eers as die hond daar 90% behaal, kan hy in die topklas meeding," verduidelik Ferreira.
Saterdag se wenners
Die kampioenskap het oor twee dae gestrek. Saterdag se wenners in die juniorkategorie was Squire met Chris Hayward van Aberdeen in die eerste plek, tweede was Lynn met Christoff Vermeulen van Graaff Reinet, en Lass met Lynette Trollip van Gauteng was in die derde plek.
Eerste plek in die seniorkategorie was Shummi’met Guys van der Berg van Humansdorp. Fern met Pippa Philip van Caledon was tweede en Ben met Lynette Trollip, derde.
In die topkategorie het Cap met Henry van der Merwe van Sutherland met die louere (of die skaaptjops) weggedraf. In die tweede plek was Amy met Mark Trollip en derde was Jill met Faansie Basson van Swellendam.
Sondag se wenners
Lulu met Sue Harris van De Rust was die wenner in die beginnersklas. Onder die juniors was Becca met Elsie Jammy eerste, Lynn met Christoff Vermeulen tweede en Charlie met John Duthie derde.
In die seniorkategorie het Celt met Elsie Jammy gewen, terwyl Shummi met Guys van der Berg naaswenner was, en Todd met Mark Trollip het die derde plek verower.
In die topkategorie het Faansie Basson gewys dat hy ‘n meester op die gebied van honde-opleiding en -beheer is. Al die honde wat die eerste drie plekke verower het, behoort aan hom. Eerste was Jill, wat as tophond bekroon is, met Don in die tweede plek en Jessie derde.
SASDA het vanjaar sy 50ste bestaansjaar gevier en die mylpaal drie weke gelede herdenk in Graaff Reinet waar die organisasie oorsproklike in 1961 gestig is.
.jpg)
Daar is die een wat wegkom! Pippa Philip wys haar slag met Fern. Elke hond kry ‘n trop van vyf tot drie skape om bymekaar te maak, deur ‘n hindernis te lei en te kraal. Inlas: Een van die pragtige werkhonde. Een skaaphond kan ‘n trop van tot 500 skape hanteer en die werk van vier mense doen. Honde se opleiding begin van ouderdom ses tot agt maande. (Foto’s: Lynette Trolllip.)
ARTIKEL: ANOESCHKA VON MECK, KNYSNA-PLETT HERALD-JOERNALIS