KNYSNA NUUS - Bianca Botha (26) van Knysna sal in 2026 internasionale blootstelling kry wanneer sy op die New York Modeweek-loopplank in New York verskyn.
Die bekende modeweek vind plaas vanaf 11 tot 16 Februarie. Hierdie prestasie volg op 'n uiters suksesvolle 2025 waarin Botha verskeie gesogte skoonheidstitels verower het en haarself as 'n opkomende naam in die mode- en skoonheidsbedryf gevestig het.
Die Knysna-inwoner, wat ook bekend is vir haar passie vir motorfietse, het op 25 Oktober die kollig gesteel tydens die Eden SA Top Model-kompetisie wat by die Diaz Hotel in Mosselbaai aangebied is.
Bianca het altesaam ses toekennings by dié geleentheid ontvang - 'n prestasie wat haar dorp se naam met trots landswyd laat weerklink het.
Haar toekennings het ingesluit die titels "First Princess", "Miss Philanthropist" en "Best Theme Wear".
Laasgenoemde is toegeken vir haar kreatiewe en treffende uitbeelding van die "Fairy of Garden Route - Knysna", wat sterk aanklank by beoordelaars en toeskouers gevind het.
Sy is ook as "Second Princess" in die Top Model-kategorie aangewys en het twee "Public Choice Awards" ontvang - een vir "Garden of Eden" en een vir "Eden SA Top Model".
In November het Bianca haar sukses voortgesit toe sy derde plek in die PPMC Magazine ontvang het, waar sy met 'n trofee en 'n skouerband vereer is.
Die jaar is op 'n hoogtepunt afgesluit toe sy in Desember die titel "Miss Sparkle of Hope - Overall Senior Winner" losgeslaan het. By dié geleentheid het sy ook die "Public Choice Award" en "Best Dressed Award" ingepalm.
Volgens beoordelaars, familie, vriende en toeskouers, is Bianca se vasberadenheid, nederigheid en liefde vir haar gemeenskap 'n ware inspirasie. Haar reis bewys dat talent uit 'n klein dorpie internasionaal kan skitter, en sy dra Knysna se naam met trots tot op die wêreldverhoog.
Bianca Botha met haar asemrowende skepping “Fairy of Garden Route - Knysna”.
Die glansryke 26-jarige Eden SA Top Modelkom-petisie 2025-wenner, Bianca Botha.
Bianca Botha (26)
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’