RUBRIEK - Dag drie en ek sukkel nog steeds om sin te maak van die TikTok-sensasie Junior King (29) se dood. Ek’s kwaad. Maar my probleem is, soos die pop-/rymkletskunstenaar Ali Joseph sê, ek weet nie vir hoekom nie.
Ja-ja, ek weet man. Jou tyd is jou tyd en jy moet berus.
Maar ek is nie lus nie.
Vir nou is dit eintlik lekker om in my emosies rond te rol, soos ’n vark wat sopas gewas is maar dadelik weer in die modder gaan lê.
Nie omdat hy vuil wil wees nie, maar omdat daar ’n weird vrede lê in sy eie innerlike onperfeksie.
Moenie my was nie.
Dis beter as ek nie te skoon is nie. Netnou lok ek aandag en word ek geslag.
As ’n mens na die omstandighede rondom Junior King se dood kyk, is daar rede om kwaad te wees. Hy alleen het gesterf.
Die bestuurder, die passasier aan die linkerkant, die twee kinders en selfs die trokbestuurder het slegs geringe beserings opgedoen. Sy voertuig was onherkenbaar gesmash.
Maar as joernalis het ek al baie erger wrakke gesien waar mense oorleef het sonder 'n skrapie.
Witbroodjies
Die Woord sê God is ’n regverdige God.
Vandag wil ek verskil.
Hoe seën jy een mens met uitsonderlike talent in dans, uitsonderlike talent in sang en ook uitsonderlike talent in rymklets - en ek twyfel nie vir ’n oomblik dat hy ook ’n uitsonderlike akteur sou wees nie - terwyl ander ook geseën word, maar nie in só ’n ekstreme mate nie? In elk geval nie in meer as een dissipline nie; dit gebeur selde.
Dan het God mos witbroodjies!
Glorie
Dis letterlik 'n geval van The good die young.
En dit net dae ná die vrystelling van sy eerste solo-album wat sekerlik nou Hip-Hop-kultusstatus gaan bereik tesame met sy vorige werk; slegs dae nadat hy hierdie kriptiese woorde laat val: "People will only love you when you die".
Ek dink terug aan die film Troy, waar Achilles se ma sê: “Your glory walks hand in hand with your doom. And the world will remember your name”.
Soos dit ook die geval was met Tupac (25), Notorious B.I.G. (24) en Juice WRLD (21).
Maar waarmee leef hierdie uitsonderlik talentvolle mense elke dag? En wat is die tol wat dit op hul psige eis?
Jaloesie, afguns en permanente kritiek. So eenvoudig soos dit.
Want dis ’n heel ander soort flex wanneer jou Godgegewe gawe die rekeninge betaal. Jy hoef niks aan te leer nie. Dit kom so natuurlik vir die witbroodtjies soos asemhaal, terwyl die res van ons met sweet op die voorkop ’n bestaan moet maak soos God belowe het toe Adam vir ewig gestraf is in die tuin van Eden.
Gebed
En ons faal hulle.
Sulke mense het gebed nodig.
Gebed om hulle nederig te hou.
Gebed en vermaning om hulle normaal te laat voel.
Gebed om hulle te beskerm teen die projeksies wat ander op hulle plaas.
Gebed om hulle tot die besef te bring dat die enigste manier om die wêreld te oorwin, op jou knieë is.
Bid vir almal, maar bid selfs méér vir die uitsonderlik talentvolle en uitverkorenes.
Dis ons plig om ’n perd in ’n stal vol donkies aanvaarbaar te laat voel. Soos die lelike eendtjie in die sprokiesverhaal en Josef en sy “simpel” drome in die Bybel.
Want God het hulle vir ons geleen, sodat ons sy mag kan aanskou. En Hy kan hulle enige tyd terugneem. Of dit nou die wêreld pas of nie.
Hoekom rou oor ons oor mense wat ons nooit eers ontmoet het nie?
Plaaslike lesers sal Junior King natuurlik onthou vir sy en Kayla Medusa se energieke optrede op 15 Augustus vanjaar in Plettenbergbaai tydens die Bitou Vrouedag-feesvieringe.
Hier het die jeug veral geril van pure plesier soos dit altyd die geval was met sy vertonings landwyd.
En natuurlik het Knysna-Plett Herald ’n berig en video van sy vertoning gebeeldsend op ons TikTok-, webtuiste- en Facebook-platforms met duisende views en emojis as somtotaal van sy populariteit.
Maar hy het ook 'n groot aantal haters gehad wat hulle sterk in die openbaar uitgespreek het teenoor hom - dieselfde persone wat nou links en regs huldeblyke aanlyn doen vir views om geld uit hul vyand se ondergang te maak. Kan jy nou meer!
Ons as volk het nie altyd ’n gesonde agting vir talent, die kunste of ons eie kultuur nie. Ons ondersteun weinig terwyl dit groei, maar betreur dit diep wanneer dit verdwyn.
Tog ruk die dood van sekere openbare figure ons, al het ons hulle nooit ontmoet nie. Miskien is dit die hoop wat hulle verteenwoordig het, of die inspirasie wat ’n hele generasie se denke en aksies kan beïnvloed.
Ten spyte van hul roem was hulle steeds kwesbaar, soos ons, en juis daarin kon ons onsself herken.
Die antwoord lê nie in een rede nie, maar in ’n warboel moontlikhede waar verlies, bewondering en, te laat, waardering saamvloei.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’