KNYSNA NUUS - Jordan van Rooyen (12), 'n gr. 6-leerder van Knysna Primêr, het die afgelope naweek weer sy uitsonderlike kriekettalent getoon toe hy vir Kilt (Knysna Initiative for Learning and Teaching) 'n onoorwonne 106 lopies teen Thembalethu van George aangeteken het.
Asof dit nie genoeg was nie, het hy ook sy veelsydigheid onderstreep deur vier paaltjies in dieselfde wedstryd te neem.
In die 50-boulbeurt-wedstryd het Kilt eerste gekolf en 154 lopies almal uit in die 33ste boulbeurt behaal. Thembalethu is daarna vir slegs 74 lopies almal uit in die 18de boulbeurt uitgeknikker.
Miguel September van Kilt was die held met die bal en het in agt boulbeurte vyf paaltjies laat kantel vir slegs 29 lopies.
Hierdie is nie Jordan se eerste groot vertoning van die seisoen nie. Vroeg dié jaar het hy reeds 157 lopies van net 79 balle teen Milnerton van Kaapstad geslaan, asook 84 lopies teen Outeniqua Primêr, beide vir sy skoolspan, Knysna Primêr.
Hierdie indrukwekkende vertonings het hom 'n plek besorg in die SWD o. 13-span wat van 29 November tot 2 Desember aan Krieket SA se nasionale week in Benoni sal deelneem.
Benewens sy skool en Kilt-verpligtinge, speel Jordan ook vir die Knysna Cavaliers, waar hy voortdurend sy vaardighede slyp.
Met sulke uitsonderlike prestasies lyk die toekoms beslis blink vir dié jong krieketster van Knysna - wie weet, dalk wag daar eendag 'n plek in die Protea-span op hom!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’