PLETTENBERGBAAI NUUS - Wat as ’n gewone konflik onder bure oor troeteldiere begin het, het in ’n noodlottige konfrontasie ontaard toe Mauritius Kleinbooi, beter bekend as ‘Mossie’, na bewering in sy voertuig geklim het en Delores April (55) omgery het.
Sy is op die toneel dood verklaar.
Die voorval het op 9 September in Kranshoek, buite Plettenbergbaai, plaasgevind. Soos in Rapport berig het April se Amerikaanse veghond glo uit haar erf losgebreek en op Kleinbooi se werf ingehardloop, waar dit sy Rottweiler aangeval het.
Kleinbooi het toe na bewering die veghond met ’n tuinvurk en paal aangeval. Hoewel die hond nie dood is nie, het dit verskeie ernstige beserings opgedoen.
Later die aand het April se seun, Santino Cloete, glo na Kleinbooi se huis gegaan om die situasie vreedsaam uit te praat. ’n Woordewisseling het egter tussen die gesinne ontstaan, wat kort daarna in dié gewelddadige voorval ontaard het.
Sers. Christopher Spies, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig dat die Kwanokuthula-speurders ’n saak van strafbare manslag ondersoek. “Die ondersoek dui daarop dat die slagoffer deur ’n motorvoertuig getref is. Sy het veelvuldige beserings opgedoen en is deur paramedici op die toneel dood verklaar. ’n Nege-en-dertigjarige man is later in verband met die voorval in hegtenis geneem,” het Spies gesê.
Die verdagte het reeds in die hof verskyn. Sy volgende hofverskyning is vir 4 November geskeduleer en hy is tans uit op borgtog.
April is op 20 September begrawe. Haar begrafnis is deur talle gemeenskapslede, familie en vriende, wat haar as ’n standvastige, liefdevolle en regverdige vrou beskryf het, bygewoon.
Die Kranshoek-gemeenskap is diep deur die voorval geraak, en die saak het verdeeldheid gesaai. Terwyl sommige dit as ’n tragiese ongeluk beskryf, glo ander dat dit ’n daad van oormatige geweld was.
Die polisieondersoek duur voort.
Delores April (55) (regs) en haar seun Satino Cloete (links)
Delores April en haar dogter, Shanitha Cloete.
Mauritius Kleinbooi (Mossie) staan tereg op aanklag van strafbare manslag en is tans op borgtog vrygelaat. Hy sal na verwagting op 4 November weer in die hof verskyn.
Delores April se veghond ná die aanval.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’