LEEFSTYL NUUS - In vandag se besige lewe het ons almal so nou en dan ‘n blaaskansie nodig. Net om weer woema te kry vir die res van die dag of week.
Net so het veral ons jonger leerders in die loop van hulle lesse nodig om ’n kort ruskansie te neem – om hulle breine kans te gee om tot verhaal te kom om dan opnuut te kan fokus.
Ons praat hier van breinpouses. Liné Els, ‘n graad 1-juffrou van die Paarl het haar kennis met Afrikaans.com gedeel.
Hoekom is dit so belangrik om deur die loop van die klas, tyd af te staan om die leerders aan die beweeg te kry, of hulle aandag te verskuif?
Wanneer ons beweeg of iets genotvol buiten skoolwerk doen, word goedvoel-hormone vrygestel. Daardie hormone laat ons helderder dink en laat ons voel dat ons meer in staat is om ’n uitdaging aan te pak. Daar is dalk leerders in die klas wat angstig raak wanneer Wiskunde-somme gedoen word. Om ’n rukkie te lag en te beweeg, neem hulle aandag weg van die angs en laat hulle goed voel. Hulle staan dan ’n groter kans om sukses te ervaar.
Hoe weet jy wanneer dit tyd is vir so ’n breek?
Elke opvoeder se klas gaan verskil. Volgens navorsing is ons aandagspan gelyk aan ons ouderdom. Dit beteken dus dat ’n graad 1-klas se aandagspan slegs sewe (7) minute gaan wees. Daarna begin hulle kriewelrig raak. In ’n ideale klas sou mens dalk elke sewe minute kon opstaan en beweeg, maar dis natuurlik nie prakties uitvoerbaar nie, maar as jy agterkom hulle aandag is nie meer gefokus nie, is ‘n kort pouse nodig. Vyf minute is gewoonlik voldoende. En ja, daar is dalk effe chaos agterna, veral as daar gedans is, maar dit is juis die doel. Dit is ‘n geleentheid vir die leerders om ontslae te raak van energie, maar op ‘n gestruktureerde wyse. Na ‘n besige en dalk chaotiese breinpouse kan mens ook ‘n paar keer diep asemhaal en die klas so tot orde bring.
Wat is die voordele van so ’n breinpouse?
- Kort breinpouses verminder stres, angs, en frustrasie.
- Dit help kinders om te fokus en produktiewer te wees.
- Dit kan ook daartoe bydra dat kinders leer om te selfreguleer en meer bewus te wees wanneer hulle moedeloos raak of fokus verloor met dit waarmee hulle besig is.
- Dit stel goedvoel-hormone vry.
- Dit stel kinders in staat om hul beste te gee, want hulle kan tot verhaal kom sodat hulle opnuut kan konsentreer.
Wat is tipiese goed wat ‘n mens kan doen?
Daar is heelwat idees en interaktiewe video’s op YouTube en ‘n webtuiste soos ahaslides.com waar daar van ‘n draaiwiel gebruik gemaak word, is baie effektief. Natuurlik is Google ‘n skatkis en hoef ‘n mens net byvoorbeeld iets in te tik soos “dance along for kids”, of “Simon says”, of “desk drumming” en die kanse is goed dat jy heelwat opsies sal kry. Hier is so ‘n paar voorbeelde:
- Danspartytjie - Vir bewegings saam met 'n liedjie.
- Saam sing - Die leerders kies watter liedjie hulle graag wil sing. Dan word daar vinnig hande opgesteek om te kyk watter liedjie die meeste stemme kry.
- “Desk drumming” – Een van die gewildstes. Daar is baie video's op YouTube wat wys hoe die leerders met kort swembad-"noodles" op hulle tafels moet slaan. Potlode of hul hande kan ook hiervoor gebruik word, indien mens nie die "noodles" het nie.
- Simon says - Hiervoor gebruik ‘n mens 'n skyfievertoning wat verskillende goed vir hulle wys, soos speel op 'n lugkitaar, skud soos 'n nat hond, waggel soos 'n pikkewyn, ens. Of jy kan net die aksie noem ook as jy nie skyfies het nie.
- Kleispeel - 5 tot 10 minute se lekker speel, waartydens hulle enigiets kan maak. Musiek kan ook in die agtergrond gespeel word.
Nouja, wie het gesê skool is nie pret nie! Om die volledige artikel te lees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’