OUDTSHOORN NUUS - De Rust lê aan die voet van die majestueuse Swartberge by die ingang na Meiringspoort sowat 35 km buite Oudtshoorn. De Rust is in 2011 aangewys as Rapport en Kwêla se Dorp van die Jaar en is die ideale plek om bietjie te vertoef voordat jy verder na jou vakansiebestemming ry.
Daar is talle eetplekke en gastehuise met ware Klein-Karoo gasvryheid in die dorp en omgewing.
De Rust is die hart van 'n boerdery-gemeenskap wat werklik nog vir mekaar omgee. Wanneer hulle byvoorbeeld fietsry-aktiwiteite aanpak, is die hele gemeenskap betrokke en word daar sommer ook basaar gehou.
Behalwe vir die talle winkels en galerye in die dorp is daar ook verskeie interessante plekke buite die dorp.
Nog voor 'n mens behoorlik uit Meiringspoort is, kry jy Meijer's Rust waar Barry Meijer 'n unieke toerisme-ervaring geskep het met gastehuise en 'n kampeerplek in die berg. Veral die ou kliphuis uit 'n vergange era aan die voet van die berg is 'n belewenis, want hier het 'n boervrou 12 kinders in 'n enkelvertrek huis met 'n reusevuurherd grootgemaak.
Op die Willowmore-pad draai 'n mens af na die Stompdrifdam, en net duskant die dam lê die plaas Doornkraal wat al sedert 1880 in die Le Roux-familie se besit is. Swepie en Ann le Roux se sewe kinders het hier grootgeword, en vir Celia, wat tans op die plaas boer, is perdry tweede natuur. Sy bied die afgelope twee jaar perdrykursusse aan. Sy bestuur ook die Domein Doornkraal-padstal tussen De Rust en Oudtshoorn.
Net 'n entjie verder is Freda Schoeman se Werk op Werf-handwerk-fabriek.
Freda het in 1996 begin mooigoed maak, en vandag het sy 14 vroue wat borduur, brei en stik.
Die geskenke word landwyd en in Namibië versprei en hier by die fabriekswinkel kry jy kans om nog vir oulaas unieke Kersgeskenke te koop.
Net deur die dorp aan Oudtshoorn se kant is De Rustica-olyflandgoed met sy 75 000 olyfbome.
Die olyfpers, die enigste in die Klein-Karoo, maak sowat 300 000 liter olyfolie in 'n seisoen, waarvan die helfte De Rustica se opbrengs is en die res van kleiner olyfboorde in die omgewing kom.
Ry 'n mens verby De Rustica op die Oudemuragiepad, vou 'n prentjie van landbou in die voetheuwels van die Swartberge voor jou oop. 'n Mens kan 'n sirkelroete onderneem, want as jy aanhou ry met die goeie grondpad langs, kom jy uiteindelik by die Kango-grotte uit, vanwaar jy oor Oudtshoorn na De Rust kan terugkeer.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'