SUID-KAAP N UUS - Die volstruisbedryf is besig om stadigaan sy kop op te tel.
"Daar is 'n nuwe positiwiteit in die lug sedert dit aangekondig is dat die Europese Unie (EU) die verbod op die uitvoer van gaar volstruisvleis opgehef het," sê Laubscher Coetzee, volstruisboer van Oudtshoorn.
Die goeie nuus is pas deur Beverley Schäfer, Wes-Kaape LUR van ekonomiese geleenthede, bekend gemaak. "Die EU is die grootste mark vir volstruisvleis wat in die provinsie produseer word. Die verbod, gepaardgaande met die geweldige droogte in die Klein Karoo en Suid-Kaap, het die volstruisbedryf erg gekniehalter. As uitvoere hervat sal dit die druk op volstruisboere ietwat verlig."
Groot uitvoerproduk
Suid-Afrika verskaf 75% van die wêreld se volstruisvleis, en sowat 85% daarvan kom uit die Wes-Kaap. Buiten die vleis, dra volstruisleer en -vere ook by tot die lewensvatbaarheid van die bedryf.
Volgens Coetzee vaar verepryse juis uitstekend. "Die afgelope 12 maande het die prys van elke lot vere wat opgeveil word aanhou styg. Ons hoop net die prys van dagoudkuikens gaan ook styg. Die kuikens se prys het die afgelope vier jaar onveranderd gebly ten spyte van die toename in brandstofpryse, duurder elektrisiteit, voerkostes en hoër lone.
Gaar-vleis uitvoerverbod gelig
Die uitvoerverbod op gaar vleis is in April verlede jaar ingestel nadat bevind is dat residutoetse vir volstruis- en wildvleis nie na behore uitgevoer is nie. Die situasie is intussen reggestel. "Die residu-moniteringsprogram is al in die laaste helfte van 2018 goedgekeur, maar die uitslae is nou eers in die EU Journal gepubliseer," sê Francois de Wet, uitvoerende direkteur van Mosstrich by Mosselbaai.
Dit beteken dat die uitvoer van hitte-behandelde volstruisvleis, soos wat dit was oor die verbod ingestel is, kan hervat. "Daar is 'n gesonde aanvraag vir die gaar produk in Europa en ons doelwit is om die vraag te laat groei."
Rou-vleis uitvoerverbod steeds van krag
Volgens De Wet bly die uitvoer van rou vleis weens die voortslepende voorkoms van die H5N8-voëlgriepvirus steeds van krag. Die verbod is middel-2017 ingestel nadat die virus van 'n groot uitbraak onder hoenders in Mpumalanga versprei het na voltruise en ander wilde voëls.
"Suid-Afrika het nie meer 'n beleid om alle volstruise op 'n plaas, wat positief vir die virus toets, te laat uitslag, soos wat die geval na die uitbreking van H5N2 in April 2011 was nie."
Hy voorsien nie dat die verbod op die uitvoer van vars vleis binne afsienbare tyd opgehef gaan word nie. "Volgens EU-regulasies mag geen vars vleis uitgevoer word voor die verloop van ten minste 12 maande na volstruise of pluimvee negatief vir die virus getoets het nie. Ongelukkig het 'n geïsoleerde geval van H5N8 in die Vrystaat voorgekom, wat die hele proses nou opnuut vertraag." Intussen is rou vleis steeds op plaaslike winkelrakke beskikbaar. "Ons kan die verbruikers die versekering gee dat geen volstruise van 'n plaas wat positief vir die virus toets, geslag mag word nie. Die volstruisvleis op die rakke is 100% veilig vir menslike gebruik."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'