NATIONAL NEWS - VivA bied elke twee jaar 'n grammatikawerkwinkel aan waar navorsers en taalwerkers die geleentheid het om van nuwe navorsing oor en insigte in Afrikaans se grammatika kennis te neem.
Die vorige geleentheid het in Johannesburg plaasgevind, maar hierdie jaar se werkwinkel word aangebied om saam te val met die Gentse Kollokwium wat jaarliks deur die Universiteit Gent aangebied word.
Navorsing oor en in Afrikaans word sodoende deel van die internasionale gesprek, en akademici van dwarsoor Europa kry die geleentheid om kennis te neem van nuwe verwikkelinge wat hier oor 'n Dietse taal onderneem word.
Bekende Afrikaanse akademici soos Bertus van Rooy, Wannie Carstens, Gerhard van Huyssteen, Daan Wissing, Jac Conradie, Donovan Lawrence, Ernst Kotzé en Adri Breed sal by die geleentheid optree, terwyl verskeie jonger deelnemers ook die geleentheid sal hê om hulle navorsing internasionaal bekend te stel. Buitelandse aanbieders sluit in Cora Pots (KU Leuven), Ton van der Wouden (Meertens Instituut, Amsterdam), Jacqueline van Kampen (Utrecht Universiteit) en Dario Rens (Universiteit Gent).
Onderwerpe wat ter sprake sal kom, sluit in registerwisseling, grammatikale veranderinge in Tienerafrikaans, nasalering in sekere variëteite van Afrikaans, uitdagings wat vertaling van Nederlandse digkuns aan Afrikaansvertalers stel, intensiewe vorme in Afrikaans, Nederlands en Duits, en die kwessie van "aaklige woorde" wat nooit hulle gehate status moes gehad het nie.
Die kongres vind plaas op 5 en 6 Oktober en 'n volledige program van die voordragte is hier beskikbaar.
Gebruikers wat meer oor VivA te wete wil kom, kan aanteken by www.vivaafrikaans.org of met ons bestuurshoof, Marlie Coetzee, skakel by 072 749 2431 of by navraag@viva-afrikaans.org.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'