Video
TUINROETE | KAROO NUUS EN VIDEO - ‘n Boer van Uniondale, wat op 16-jarige ouderdom sy maats by Hoër Oakdale Landbouskool moes groet om op sy oupa se plaas te gaan werk, is een van vyf finaliste vir die Agri Wes-Kaap Santam Landbou Jongboer van die Jaar-kompetisie.
Die kompetisie is verlede jaar op nasionale vlak weens Covid-19 uitgestel.
Derec Giles (39) van die plaas Dwarsfontein 12 km buite Uniondale het as kleuter reeds gekies om eerder vir sy oupa op die plaas te gaan kuier as om see toe te gaan. Hy is nederig oor die eer wat hom nou te beurt geval het.
"Ek is in George gebore en het saam met my broers en susters skoolgegaan by Laerskool George-Suid," het hy gesê. "Ons gesiggies was gereeld in George Herald omdat ons so lief was vir sport."
George-burgemeester Leon van Wyk en die burgemeesterskomitee het Maandag besoek op Dwarsfontein afgelê.
Die wenner van die provinsiale been van die kompetisie word volgende Woensdagaand, 19 Mei, tydens ‘n gala-geleentheid by Ashanti-landgoed in die Paarl aangekondig. Die verrigtinge sal aanlyn gevolg kan word en die wenner sal meeding om die nasionale titel van die Agri SA Toyota SA Jongboer van die Jaar-kompetisie.
Kyk 'n video hieronder:
Die ander vier finaliste is Jo-andra Cloete Greegory (34), ‘n hoenderboer van Joostenbergvlakte, Alexander Gibson (31), ‘n appelboer van Ceres, Floris Steenkamp (38) van Kromfontein in die Koue Bokkeveld en Kleinjan Teubes (30) van Vredendal.
Giles boer met skape, kalwers, volstruise en teel met honde. Ofskoon sy kalwerboerdery tans die grootste deel van sy boerdery beslaan, is sy hondetelery besig om vining te groei.
"Ons teel met labradors, golden retrievers en wire haired terriers, met kopers regoor die land. Daar is soveel mooi stories wat ek kan vertel," het hy gesê. ‘n Ander been van hul boerdery is die verbouing van groentesaad.
Derec Giles (links) saam met George-burgemeester Leon van Wyk.
Prestasies
Giles se toekennings sluit in preie-saadkweker van die jaar en lente-uie-saadkweker van die jaar. Hy was die afgelope sewe jaar die sekretaris van die Agri Uniondale-landbouvereniging en is ook die voorsitter van die plaasveiligheidskoördineerders in die gebied.
Giles is vir die kompetisie genomineer deur die voorsitter van die Uniondale-boerevereniging, Eugene Smith. "Die beoordeling is geweldig deeglik en intensief. ‘n Mens moet bereid wees om jouself heeltemal oop te maak," het Giles gesê. "My vrou, Charmaine, is baie opgewonde en sal my na die gala-geleentheid vergesel. Jy weet, ons werk as ‘n span."
Charmaine is ‘n adviseur vir Old Mutual se tak in Oudtshoorn, waar sy en hul drie dogtertjies, Inge (7), Ava (2) en Karli (11 maande), in die week tuisgaan.
Die Giles-gesin: Charmaine en Derec met hul drie dogters Inge, Karli en Ava.
‘n Feit soos ‘n koei
Op die plaas Dwarsfontein is daar 85-jaar gelede ‘n seuntjie in ons familie gebore. Op ‘n vraag of hulle sal probeer vir ‘n seuntjie, het Giles lekker gelag. "Vir plaasboere op die Dwarsfonteinpad word daar nie sommer seuntjies gebore nie."
Giles se ouers Dwarsfontein in 1998 uit sy oupa se boedel gekoop. Hy is in gr. 10 na Hoërskool Uniondale sodat hy smiddae kan boer. Sy pa was ‘n rekenmeester vir die Parkeraad en het glad nie geboer nie. Giles het ook nie ‘n geleentheid gehad om verder te studeer nie. In 2011 het hy en Charmaine begin om die grond uit die familie-trust te huur.
Sakevennoot en mede-boer Cornell Barnard praat met groot lof van Giles, saam met wie hy die afgelope paar jaar ‘n geweldige droogte beleef.
Skoupresident Pieter-Matt Stemmet, ‘n boorling van Uniondale en ‘n boer, het gesê dit is vir die gemeenskap ‘n riem onder die hart dat Giles deel is van die Jongboer van die Jaar kompetisie: "Ek kan nie onthou wanneer laas iemand uit ons area dit bereik het nie. Welgedaan Derec!"
Derec Giles (39) van die plaas Dwarsfontein 12km buite Uniondale staan 'n kans om gekies te word as Agri Wes-Kaap se Jongboer van die Jaar.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'