WES-KAAP NUUS - "Dis 'n persoonlike vendetta. Dis mense wat dink hulle kan my aandag aftrek van my diensleweringsfokus."
Só het Tertuis Simmers, Wes-Kaapse minister van menslike nedersettings en voorsitter van die DA se oosstreek, gereageer op die jongste fopnuus-bohaai waarin onder meer beweer is dat hy oor sy kwalifikasies gejok het.
'n Grafika daaroor is verlede week op sosiale media versprei. Dit is intussen verwyder.
Simmers beskou dit in so 'n ernstige lig dat hy die saak onder die aandag van die polisie gebring het.
Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het ook daarop gereageer en sy teleurstelling oor mense se optrede uitgespreek. Daar is beweer dat Simmers aanspraak maak op 'n B.Com.-graad.
'n Ontstoke Simmers het aan George Herald gesê hy het op Donderdag 8 April daarvan bewus geword. Hy het dadelik op sy Linkedin-profiel gaan kyk en gesien die een in sirkulasie is vals.
"Ek is nie onbekend vir mense wat valse informasie oor my versprei nie. In die verlede het mense dit ook gedoen."
Hy beskou dit as lasterlik en verwerp bewerings wat gemaak is, met die minagting wat dit verdien. Hy het nog nooit probeer voorgee dat hy oor 'n B.Com.-graad beskik nie. "Ek sal nooit 'n kwalifikasie aan myself toeëien wat ek nie het nie. Dit is teen die wet."
Hy wil homself nie herhaaldelik verdedig teen fopnuus nie. Wat hom betref is daar groepe in die streek wat na bewering fopnuus versprei en die administrasie daarvan word blykbaar hanteer deur individue wat nie oor kwalifikasies in die joernalistiek beskik nie.
Hy steun Winde se verklaring ten volle en ook enige moontlike prosesse wat daaruit mag spruit. Hy het 'n goeie idee wie daarby betrokke is en sal die inligting aan die polisie gee sodat dit ondersoek kan word.
Simmers het benadruk dit raak nie net hom as persoon nie, maar ook sy familie en sy gesin. "Dit tas ons integriteit en menswaardigheid aan."
Hy sal voortgaan waarmee hy besig is. "Ek was en sal 'n gemeenskapsaktivis bly." Hy glo om dit te doen op voetsoolvlak en nie op 'n Facebook-blad te bedryf waar mense agter sosiale media kan skuil nie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'